Donderdag 27 Augustus 2015

Bettie: Vrydag 28Augustus 7:00vm


Dis vandag groot opgewondenheid hier by die Nelle. Nege-uur vanoggend laai hulle my Mosbolletjie in haar Limozine, dis nou die een met die flitsende rooi ligte en die sirene wat “Pieee-Pôôô, Pieee-Pôôô” maak. Sy het promosie gekry na Entabeni se rehabilitasiesentrum. En as sy vandag op haar voete kon staan, het sy op en af gespring van opgewondenheid! Maar binnekort gaan sy dit nog doen!
Dis baie harde werk, en waarskynlik baie pyn en smarte wat voorlê, maar dis 'n reuse tree vorentoe, en ons is die Here oneindig dankbaar vir hierdie wonderlike voorreg.
Gisteraand het daar 'n kring vrouens om haar hospitaalbed gestaan om te help met die inpak en beplan. Gistermiddag bring dierbare vriende vir haar die mooiste klere om daar te dra, en een van die selgroepe koop vir haar slaapklere sodat sy nou uit daardie aaklige, onvroulike fraaibloufrokkie van die hospitaal kan uitstyg en 'n splinternuwe lewe aanpak.
Dankie aan al ons wonderlike vriende wat ons so op die hande dra. Deur hierdie hele tyd het ek nog nooit nodig gehad om 'n enkele bord kos self te maak nie. Ons vrieskas word permanent aangevul met oondklaar geregte, sodat ons net in die aand in die hardloop 'n bakkie uithaal en warm maak. Dit is Ballito se selgroepe wat sulke wonderlike omgeemense is! Liefde word sigbaar en prakties uitgeleef in hierdie gemeente van Ballito Gesinskerk!

1 opmerking:

  1. Hello daar Bettie en Louis ons is baie bly om te hoor dinge vorder daar met julle. Dit is werklik wonderlik om te hoor julle het sulke wonderlike mensies daar wat julle bystaan. Dit klink soos een groot familie waarlik. Bettie ons hoop jy is gou gou oor die swaar uitdagende tyd om weer te kan loop en jou self weer wees nog voor die einde van die jaar. Dit kan net n sukses wees met so baie positiewe mense om jou. Bid elke dag en dink aan jou en familie. Ek het n whatsapp gekry van jou hooray en het een weer terug gestuur.Sterkte liefde Lynda en familie.Het n foto hier tussen my ouers se ou albums ontdek n ruk gelede waar ek en jy op die stoep in Kradok staan met oupa ouma ons ouers en oud ouma ek en jy met ons katjies spier wit is hulle. So van kleins af was ek baie life vir katte gewees en nou nog mal oor hulle. Het vier wat op die bed saam slaap.xxx

    AntwoordVee uit