Saterdag 08 Augustus 2015

Bettie: Saterdag 8 Augustus 8:00vm


Gisteraand was my Mosbolletjie nie baie lekker nie. Die behandeling het haar uitgeput, en sy het baie ongemak verduur. Die bloedplasmavervanging is elke keer uitmergelend. Boonop lê sy al vir twee weke in een posisie. Sy kan nie eers 'n bietjie op haar sy draai nie. Daardie rug moet nou al vodde wees!
Maar sy is steeds positief. Een van haar talle besoekers merk gister op: “Sy is so mooi gegrimeer, met kersierooi lippies, sodat sy mooi sal lyk vir haar besoekers.” Inderdaad is dit opvallend dat deur die bank almal wat in die waakeenheid lê, vaal lyk. As jy so afstap verby die beddens na Bettie se “krismisboom” toe, dan kyk jy vas teen 'n muur van strak, bekommerde, stroewe, bleek gesigte. En op die onderpunt 'n sprankelende blommetjie met 'n kersielaggie. Terloops, die lipstiek kom uit 'n Rooi Rose wat iemand vir haar gegee het!
En wanneer ek by die saal instap, helder haar gesiggie so 'n ekstra op. En dit sê dat sy lief is vir my! En die beklemming om my hart verdwyn sommer!
Maar nou moet ek eers 'n woordjie sê oor die personeel: Wanneer ek by die voordeur van Alberlito Hospitaal instap, keer die ontvangsdames my eers voor om uit te vra oor Bettie. Nie alleen loop hulle oor van vriendelikheid nie, maar hulle bemoedig my.
En wanneer ek die waakeenheid met al sy klokkies en fluitjies en alarms en biepers binnestap, verdwyn die aaklige geluide, want ek word begroet met 'n hartlike warmte van vriendelike verpleegsusters wat wys dat hulle waarlik omgee, nie alleen vir die pasiënte nie, maar ook die besoekers. Elkeen van die dosyne susters groet my vriendelik asof ek al 'n ou vriend is.
My Mosbolletjie kon nie in 'n beter plek gewees het nie!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking