Saterdag 19 Julie 2014

Alweer die Manne
Saterdagoggend.
Pikdonker vanoggend val ek in die pad. Ek is nie baie lus vir die rit so vroeg op 'n Saterdag Ballito toe nie. Maar skaars kom ek by die kerk aan, of my hele gemoed verander. Die heerlike geur van sterk swart koffie wat brou en 'n klein groepie manne wat heerlik aan die gesels is, gee my sommer nuwe moed vir die dag. Weldra groei die groep aan tot 20 manne wat die hele kombuis vol staan, en dit gons soos 'n byenes.
Versterk met die geurige koffie, is dit besigheid, en na 'n kort videogreep begin die manne diep dinge gesels. Die gesprek handel oor eer aan God en eer aan jou medemens.
Gewoonlik sukkel dit maar om 'n klomp manne bymekaar aan die praat te kry, maar hierdie manne het vanmôre sommer gróót gesels. Elkeen wil sy opinie lug. Ek is half gefrustreerd, want ek sukkel om 'n woordjie in te kry. En kyk, EK is mos nou darem die ou wat wéét wat hy sê!
Maar baie gou moet ek agterkom dat daar ander manne óók is wat wéét wat hulle sê, en dalk baie beter as die “wyse” EKKE.
Waaroor het die gesprek nou weer gegaan?
O, om ander die eer te gee.
Oepsie..........
Ek hoop ek sien jou by die volgende manne oggend, Saterdag oor twee weke. Dis lêker jong!
Louis

Woensdag 16 Julie 2014

Almal is Vrolik, net nie ekke nie.
Die oggendsonnetjie begin die vallei hier onder my vul, waar ek toegewikkel in 'n warm jas onder die Mangoboom sit om 'n internetsein te probeer kry. Ek voel gefrustreerd, want die bietjie sein wat daar van die toring af deursypel is maar bitter stadig. Dalk vries dit halfpad? Ek sê 'n paar woorde wat ek nie hier durf publiseer nie.
Maar my wag is darem nie verniet nie, want oggendklanke begin die lug vul. “O Heer, baie dankie dat U my nog 'n nag gespaar het” sing 'n Groenvlekduifie hier onder uit die woud, oor en oor en oor.
Genaaaade, genaaaade, genaaaade!” antwoord 'n Tortelduif hier agter uit die hoë takke van 'n Suurpruim.
Loof God, want Hy is goed!” beaam 'n Grootringduif.
Iewers in die vêrte hoor ek hoe die Papegaaiduiwe vrolik klets en rinkink. Vir hulle is die lewe een groot fees. Dit lyk altyd asof hulle nie 'n bekommernis in die wêreld het nie. En dan wonder ek: waarvan leef hulle? Dis winter en die vrugte is maar skaars. Hoe kan hulle nog so opgeruimd wees as hulle skaars iets het om te eet?
Skielik voel ek baie skaam, want hier is al die voëltjies in die veld besig om lofliedere te sing te midde van groot swaarkry, en ek sit en stres en op my tande kners omdat ek 'n bietjie sukkel met 'n luukse soos internet wat nie wil werk nie.
Die laksmannetjie kom ingesweef en sit vir 'n oomblik op 'n paal. Dan duik hy af op die droë gras om die een of ander onsigbare gogga te vang. Ook maar bitter min goggas vir hom hierdie tyd van die jaar, maar hy kla nie.
Hy vryf nog sout in my wonde. Ek voel dringend die behoefte om vir die Here groot om verskoning te vra oor my ongeduld en ondankbaarheid.
Louis


Donderdag 10 Julie 2014

Toiletpapier
Ek bring vanoggend my motor in vir 'n diens in Stanger. Besluit ek toe mos, dat terwyl ek moet sit en wag, dat ek maar kan sit en werk. Ek pak vir my 'n opvoutafel en stoel in, en so stel ek my “kantoor” op op die enigste stukkie gras, tussen 'n klomp rommel, voor die werkswinkel.
En hier sit ek nou. Rondom my staan 'n klomp stukkende karre. Motors is hulle beslis nie, want nie een is die titel van “motor” werd nie. Hier is selfs 'n hele bondel uitgeleefde taxi's.
Maar dit is nie waaroor ek skryf nie. Toe ek hier kom sit, vang my oog die gebou reg voor my. Hier lê 'n reuse rol papier, byna twee meter hoog en naby aan drie meter wyd. Daar is so 'n snaakse donsigheid aan die papier, nie soos die gewone koerantpapier wat jy dikwels op vragmotors sien nie. Laat my amper aan 'n reuse toiletrol dink.
En tóé eers sien ek die naam van die besigheid: “Soft Touch”. En toe wéét ek: hierdie IS 'n reuse toiletrol.
En nou gaan my gedagtes op loop. Wat sou die doel wees van so 'n groot toiletrol? Ja, ek weet dat hy opgesny gaan word in duisende klein rolletjies. Maar sê nou maar net hy bly so groot.......... Waarvoor sou mens dit dan gebruik?
Dit kan darem handig inkom om al die gemors wat in ons land aan die gang is skoon te vee. Al die korrupsie en omkopery en onwettige transaksies. En wat van al die leë beloftes wat die manne in die politieke gestoeltes maak? Dan is daar nog al die verwyte en beskuldigings wat heen en weer geslinger word in die parlement, maar ook elders. Dit gebeur dikwels selfs in die kerk!
Maar dit bring dit nader na my sélf. Ek is mos deel van die kerk? En ek staan dikwels skuldig dat ek dinge sê wat nie gesê moes wees nie, en dan maak ek mense seer. Ek ek dink dinge wat my gedagtes besoedel. Is daardie reuse toiletrol nie dalk vir my sélf bedoel nie?
Vee eers voor jou eie huis voordat jy 'n ander s'n kritiseer! Ek dink ek gaan oor stap na daardie toiletpapierfabriek, en vir die kêrel vra wat sy rolletjie kos. Dalk kan ek dit handig vir my sélf gebruik.
Louis

Maandag 07 Julie 2014

Om Kerk Toe te Gaan
Hier by ons op die koppie is dit vandag bitter koud en die reën sif saggies neer. Ek moet netnou uit, maar ek voel nie verskriklik gemotiveer om die weer te trotseer nie.
Gister se Erediens was weereens vir my 'n wonderlike belewenis. Ja, die dominee het 'n treffende boodskap gebring, maar dit is nie waaroor dit werklik gaan nie – dit is maar deel daarvan.
'n Erediens is in die eerste plek daar vir ons om aan God eer te bewys. Die hele erediens moet rondom Hom draai, en nie wat ek daar uitkry nie. En ek dink ons het gister goed daarin geslaag om daardie doel te bereik.
Maar persoonlik het ek ook baie daaruit gekry, veral daardie heerlike saamwees met my medegelowiges. Dit is die plek waar ons mekaar versterk en moed gee vir ons taak in die Koninkryk. Ek het dit bitter nodig – dit hou my aan die gang en brandend.
Nou wonder ek net: as jy maar net die kerkdiens op TV kyk en nooit in die erediens kom nie, hoe kan jy nog funksioneer as gelowige? Natuurlik is daar mense wat weens siekte of omstandighede nie 'n ander keuse het nie. Maar as jy daardie keuse het........ ek wonder maar net.
Louis

Saterdag 05 Julie 2014

Manne Tyd
Saterdag 5 Julie
Pikdonker val ek vanoggend in die pad om saam met die manne in Ballito te gaan bid.
Daar aangekom, kry ek 'n gesellige klompie manne saam om die koffiemasjien. 'n Gemoedelike gees heers so vroeg op die Saterdagoggend.
Maar dan word dit tyd om ernstig te raak. 'n Onderwerp word op die tafel gesit, en dan begin die manne gesels. Dit gons, en waar ek gewoonlik die een van baie woorde is, kry ek skaars 'n skuins woordjie in. Ek verluister my aan die wysheid wat oorborrel.
Ek kry 'n warm gevoel oor die hart. Is dit nie heerlik nie, wanneer manne ernstig gesels oor die dinge van die Koninkryk? Ons praat oor die werking van die Heilige Gees, en hoe wonderlik dit is dat daar 'n nuwe insig gekom het in die NG Kerk oor die Heilige Gees. Waar hierdie onderwerp vroeër jare taboe was, want dit was net die “Apostolies” wat openlik oor die Heilige Gees gepraat het, is dit nou totaal anders, en oral ervaar lidmate van die NG Kerk die wonderlike werking en gawes van die Heilige Gees.
Te gou is ons tydjie om, en die manne kerm dat hulle nog báie wou gesels en nog lekker wou kuier.
Wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Hierdie manne se harte moet propvol wees van die Heilige Gees, want hulle kry nie genoeg van Hom gepraat nie.
Met 'n hart wat gloei, ry ek terug huistoe. En dit borrel in my, want ek is so bly..........
Louis

Donderdag 03 Julie 2014

Vrede vir Jou
Die afgelope tien dae was nie vir my so lekker nie.
'n Paar van ons manne is twee weke gelede na Moreletta Park NG Kerk vir 'n uiters besielende MPA Seminaar. En ons kom brandende terug, gereed om berge te versit. Ons is baie opgewonde en die Heilige Gees werk hard in ons.
En nét daar begin die moeilikheid. Eers beseer ek 'n ligament in my skouer, wat my laat krul van die pyn. Die dokter gee pille, en die volgende dag gaan dit al beter. Maar dieselfde dag nog tref 'n maagvirus my en slaan my plat vir 5 dae – so siek soos 'n hond, en al my fut uit. Maar nog is dit het einde niet, en die oomblik toe ek begin mens voel, slaan die griep my weer plat. Die duiwel het baie hard probeer om my borrel te bars.
Toe ek vanaand by die huis kom na 'n rondte huisbesoeke, moet ek inderhaas eers die dagstukkies op die lug kry. Die internet sein in die huis is skoon weg, en ek is verplig om my rekenaar te vat en buite in die donker te gaan sit om darem 'n stukkie sein te kry.
Teen hierdie tyd voel ek nie baie lekker óf gelukkig nie, en die selfbejammering drup van my af soos 'n vlieg wat in stroop geval het.
Maar terwyl ek daar sit en wag vir die Internet om sy slakkepas te gaan, hoor ek dit: die onbeskryflike stilte van die pikdonker nag. Dit is so stil dat jy daaraan kan raak. Jy kan dit vat en in jou hande hou. Nêrens is daar eers 'n sweempie van 'n geluid nie. Nie die gewone sang van naguiltjies nie, en ook nie die roep van die bosnagaap wat ons so dikwels vermaak nie. Niks!
En 'n heerlike rustigheid sak oor my toe, daar waar ek stoksiel alleen onder die boom sit met my rekenaar. En ek sê: “Dankie Here! Dankie vir hierdie oomblikke in die voorpoorte van die hemel......”
En nou weet ek dat die duiwel my beslis nie gaan onderkry nie.
Mag jy ook soos ek vanaand God se onbeskryflike vrede beleef het, daardie vrede beleef wat alle verstand te bowe gaan.
Louis

Dinsdag 01 Julie 2014

Goeie môre
Dagboek: 2 Julie 2014
O koud is die windjie en skraal......... Die bekende gedig uit ons vroeë Afrikaanse skatkis maak vanoggend vir my baie sin.
Omdat ons internet sein so swak is, moet ek baie vroeg elke oggend buite gaan sit voor die huis om my take afgehandel te kry. En vanoggend byt so 'n lastige windjie my in die blaaie.
Nogtans is dit die moeite werd, want in die vallei onder my begin die son plek-plek die skaduwees uit die kloof verdryf. Die voëls het begin ontwaak, en hier agter die huis jubel 'n Grootringduif: “Loof Hom! Die Heer is groot!” oor en oor.
Die narre van die duiwefamilie, die Papegaaiduiwe baljaar iewers hier onder in 'n boom waar daar wintervrugte is – hulle dankbare borrelklanke is soet op die oor. En 'n paar Rooikophoutkappertjies sing opgewonde hulle duet terwyl hulle op die takkie op en af wip van pure lewensvreugde, terwyl 'n koddige Hoep-hoep ewe vrolik “Hoep-hoep-hoep.”
Die hartseer liedjie van die Groenvlekduifie: “My ma is dood, my pa is dood, al my kindertjies is dood en my hart is baie seer.....” gryp my aan die hart.
Dit herinner my dat daar tussen al die vrolike mense ook iemand is met 'n diep seer binne in. Dit hinder my, want dikwels wil ek nie daardie seer raaksien nie – wil ek liewer verby kyk, nie betrokke raak nie.
Die Here het my 'n oor gegee om te kan luister na diegene wat seer het. Dalk kan ek nie fisies iets doen nie, maar dikwels is dit al wat die persoon vra, dat iemand gewillig sal wees om te luister.
Here, gee my asselief gewillige ore. Gee my asseblief daardie empatie om te wil luister na elkeen wat seer het. Gee my die geduld om nie te wil raadgee nie, maar net te luister.
Louis Nel


Hartlik welkom by Louis se Blog.
Hierdie blog is bedoel om 'n gesels-blog te wees, en ek nooi jou hartlik uit om deel te neem aan die gesprek of kommentaar te lewer.
Wat presies gaan die blog behels?
Ek het nie 'n idee nie! Maar ek sal my laat lei deur die Gees. Moontlik skryf ek oor dinge wat met my gebeur. Of dalk sal ek iets meer vertel oor boeke. Dalk skryf ek oor relevante onderwerpe. Ek sal my ook laat lei deur jou, liewe leser, en ek skryf graag oor 'n onderwerp waaroor jy wil praat.
Dalk net so 'n ietsie oor myself:
Ek is gebore op 30 Julie 1948 in Middelburg Transvaal (toe was daar nog nie 'n Mphumalanga nie!).
Ek het egter grootgeword op Oupa Johnny Parsons se plaas Teguaan, skuins onderkant Elandskrans by Waterval Boven (daardie jare was die plaas se naam Doornhoek). Daar op Waterval Boven het ek gematrikuleer.
Ek woon tans op 'n plaas naby die pragtige kusdorp Ballito.
Ek is deeltyds in diens van die Ballito Gesinskerk (NG Gemeente Noordkus).
Ek het reeds meer as 40 boeke geskryf, en ek publiseer ook boeke vir mense wat 'n klein oplaag boeke gedruk wil hê.
My e-posadres is: louis@chl.co.za
Louis Nel