Donderdag 05 November 2015

Bettie Donderdag 5 November


Wat 'n opwindende week!
Gister het ons dierbare vriende, Jan en Gerda Kaljee 'n draai kom maak by ons beskeie “hartbeeshuisie”. Gerda was in haar prille jeug 'n fisioterapeut, en sy het 'n aantal pasiënte met Gilllain Barré Sindroom behandel.
Met Bettie se nuwe Ballerina-raam in plek, besluit Gerda dat die tyd aangebreek het dat Bettie begin leer om te loop. Haar rolstoel is geparkeer aan die punt van die 3m lange paralelle raam, en toe met behulp van Jan en Gerda weerskante van haar vir 'n bietjie ondersteuning, begin sy treetjie-vir-treetjie al met die raam langs loop.
Natuurlik is ek baie senuweeagtig dat haar brose bene dalk onder haar kan swik, dus stoot ek die rolstoel al die pad reg agter haar, nét vir ingeval. Maar eintlik was dit gladnie nodig nie, want sy marsjeer die drie meter afstand sonder enige voorval.
Gerda is berug daarvoor dat sy 'n “slawedrywer” is, en dan is dit weer terug na die begin om nóg 'n lengte te stap, en ook 'n derde keer! Toe is Bettie poegaai!
Maar nog is dit het einde niet! Nou moet sy eers tien keer op haar eie, met behulp van die raam opstaan en gaan sit. Maar Gerda weet nie hoe om tot tien te tel nie! Die tien draai naderhand hier by die dertig rond!
Baie dankie aan twee dierbare mense wat hulle kosbare tyd op hierdie manier vir ons opoffer. Ons waardeer dit baie meer as wat julle besef.
Maar dit is toe nie die einde van die week se opwinding nie. Vanoggend pak ek die bul by die horings, en besluit dat die tyd aangebreek het dat Bettie gaan stort. Sy moes tot dusver tevrede wees met 'n bedbad elke oggend, omdat die stort ontoeganklik is. Ek maak plan met 'n stoel wat die hele stort vol staan. Met die rolstoel kan sy nie eers naby die badkamer kom nie, omdat spasie so beperk is. Die enigste uitweg is om haar op 'n wankelrige kantoorstoeltjie tot by die stort te stoot en dan met groot moeite oor te skuif tot op die stoel.
En toe, vir die eerste keer kan sy weer stort! Wat 'n vreugde!
Hierdie hele operasie het my net weereens laat besef hoe belangrik toeganklikheid vir 'n parapleeg is. Die afgelope week moes ons by 'n bekende klerewinkel vir Bettie klere koop. Toe sy by die aantrekhokkie kom om dit aan te pas, kan die rolstoel gladnie in die hokkie kom nie, en was sy verplig om met 'n oop deur aan te pas. Dit was vernederend!
Ons is die Here baie dankbaar vir die wonderlike vordering wat my Mosbolletjie maak.

Sondag 01 November 2015

Bettie: Maandag 2 November


Sedert my laaste blok het daar baie water is die see geloop. Intussen is Bettie uit die hospitaal ontslaan omdat die mediese fonds nie langer vir die rehabilitasie sentrum wou betaal nie.
Maar nou wil ek eers sê hoe baie trots ek op my Mosbolletjie is. Sy is nou nie juis iemand wat toesprake hou of in die openbaar praat nie. Maar Vrydagaand het ons gemeente 'n familiefees gehad, en by daardie geleentheid het sy voor 'n klomp mense getuig oor wat met haar gebeur het. Sy het vertel van haar hele ondervinding in die hospitaal en die rehabilitasiesentrum en hoe sy deur alles kon staande bly deur die genade van die Vader. Maar ook dat sy gedra is deur talle mense wat gedurig vir haar gebid het, besoek het en die talle boodskappies en oproepe van bemoediging.
Inderdaad is sy nou by die huis, en die uwe is verpleegster, fisioterapeut, shef, kopdokter, bemoediger, arbeidsterapeut en sommer ook die huishoudster, skottelgoedwasser en wasvrou. Maar ek doen die alles met groot liefde en baie blydskap, want my Mosbolletjie is by my!
Sondae by die kerk is ek maar baie suur, want almal koek rondom haar en kloek en kekkel met haar, en ek kry nou nie meer aandag nie! Nee, eintlik is ek gladnie suur nie – my hart swel van trots vir my brawe Meisie!
Die manne van ons selgroep het vir haar 'n ballerina-raam gebou waarin sy kan opstaan. Hierdie apparaat moet haar help om te leer loop, en Donderdag het sy dan ook haar eerste klein treetjie gegee met behulp van die raam. Dit is 'n reuse tree vorentoe.
Bettie is steeds baie positief en vol moed. Elke dag is 'n nuwe mylpaal in haar lewe waar sy iets nuut regkry.
Ek wil net weereens baie, baie dankie sê vir die talle boodskappies en briefies van bemoediging wat ons deurentyd kry, dikwels van mense wat ons gladnie eers ken nie. Dankie vir die talle besoekies in die hospitaal en vir die wonderlike ondersteuning van die lidmate van ons gemeente en ander vriende. Dit dra ons deur die moeilike tyd.
Louis en Bettie Nel