Donderdag 30 Oktober 2014

Soeter as Heuning


Lees ek vanoggend Psalm 19 van die hemel wat getuig van God se grootheid en almag. En dit is alles baie mooi, en my siel juig saam met daardie skrywer van ouds. Ek loof die Here vir alles wat Hy is en wat Hy gedoen het.

En toe lees ek vers 10: “Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek.”

Is dit nou nie mooi nie? Dit is 'n inspirasie wat genoeg is vir die hele dag, om my te dra deur ál die dag se beproewinge.

En toe kom sit een van die duiwel se trawante op my skouer en hy fluister saggies in my oor: “Werklik?”

Wat bedoel jy?” vra ek vererg.

Aag, daardie stukkie is sommer pure heuningkwas. Wees nou maar eerlik, alles is nie so maanskyn en rose soos wat die soetsappige gedig wil voorgee nie.”

Nee, jy is verkeerd!” Nou is ek sommer dadelik omge-êllie!

Kom ek gee 'n voorbeeld: wat van al die onreg wat in die wêreld aangaan? Waar is jou God wanneer duisende mense onskuldig sterf?”

Dit is die werk van ongelowiges!” Kyk, ek wéét mos darem hoe om die kêrel te antwoord, “Dit is jóú volgelinge wat al die ellende veroorsaak!” sê ek vir hom.

Dankie vir die kompliment,” lag hy, “maar dis nie húlle waarvan ek praat nie, dis al die rampe en peste en epidemies wat die wêreld tref, en dan gaan daar dikwels onskuldige mense, selfs gelowiges en kinders dood. Waar is jou God se liefde dan nóú?”

Vir 'n oomblik is ek totaal uit die veld geslaan. Hoe antwoord jy só 'n arrogante vent? En ek hoor hoe hy bulder van die lag terwyl hy wegvlieg en my met hierdie tameletjie los.

Here,” bid ek wanhopig, “ek verstaan nie. Sal ek óóit U weë verstaan? Daar is soveel mense wat loop en worstel met hierdie vraag.”

En dan kom die antwoord na my soos in 'n sagte, kabbelende waterstroompie: “Wie en wat is jy?”

Ek is Louis, 'n doodgewone mens van vleis en bloed, en vol allerhande skete. Ek het jig en rumatiek wat my pynig, en dan is daar nog boonop.......”

Nee, wie is jy wérklik?”

En dan skemer dit tot my deur: Hierdie “Ek” waarna ek verwys is eintlik maar net 'n tydelike dop waarin die ware “Ek” op die oomblik bly. My verganklike liggaam is die werktuig wat die Here my gegee het om te gebruik tot Sy eer solank as wat ek die aarde bewandel. Die ware Ekke is my gees wat hierdie liggaam tydelik bewoon.

En natuurlik is hy onsterflik en kan hy nie fisies gepynig word nie, selfs nie eers deur die ergste marteling nie. Nou maak dit sin waarom die martelare in Nero se tyd kon lofliedere sing terwyl die leeus hulle opvreet.

As jy op 'n ander manier daarna kyk, dan is die dood eintlik die aksie waar jy verlos word van die beklemmende dop waarin jy noodgedwonge hier op aarde moet bly.

Die vraag is: Is dit dan so wreed as mense verlos word van hulle verganklike ou liggame om vry en ongebonde te kan wees sonder enige pyn en swaarkry en ellende? En dan boonop in die heerlikheid van God se teenwoordigheid te kan lewe?

Nee, ek dink nie so nie! Ek dink dit is suiwer liefde en genade!

Die bepalings van die Here .... is kosbaarder as goud, ..... soeter as heuning”

Vrydag 10 Oktober 2014

Djabula Uitreik


Vrydagaand, 3 Oktober 2014.

Saam met Sarie en Dina begin die sendinguitreik na Djabula vir my met 'n kampvuurtjie en 'n vleisie op die kole by ons huisie op Cranbrook. Daarna volg 'n lekker saamsing met die kitaar om die tyd om te kry tot twaalfuur die nag. Dan is dit in die pad val na Shakaskraal waarvandaan die groep van 34 eenuur die oggend sal vertrek - 'n vloot van vyf voertuie en reuse sleepwaens gelaai met tonne kos en klere en al ons kamptoerusting.

Maar daar is 'n probleempie, want die een bakkie se bedrading wil nie met sy sleepwa gesels nie. Tot tweeuur die oggend word daar gespook en gespartel om die fout reg te stel, en dan val ons uiteindelik in die laaaaang pad na Djabula.

Ek kry 'n plekkie in die kombi saam met die spul jongmense, niemand anders van die ouer mense wil daar ry nie, want die jongklomp se musiek is glo te hard. En arme Louis word genomineer om die musiek te trotseer. En so begin 'n luide rit na Djabula vir my letterlik op 'n hoë noot.

Die rit is pynlik stadig want die sleepwaens is swaar en die mense sit ingeryg soos sardientjies in die voertuie. En hulle het toe nie oordryf oor die musiek nie - dit was harder as hard. Eintlik oorverdowend. Vir die eerste keer beleef ek hoe dit moet voel om in een van hierdie têksies te ry waar jy die doef-doef 'n kilometer ver hoor aankom. Van slaap is daar geen sprake nie, en uur na pynvol-stadige uur sleep verby.

Uiteindelik is ons deur die grenspos in Swaziland, en stop ons vir 'n laat ontbyt. En daar begin my probleme: my voete voel baie seer. By die volgende grenspos, na Mosambiek, vind ek uit waarom my voete so seer is. Hulle is opgeswel soos balonne van die lank sit in een posisie. Die volgende paar uur deur Mosambiek is nie die aangenaamste rit wat ek al onderneem het nie, nie alleen oor my pynlike voete nie, maar dit word vererger deur nagmerrie paaie. Die voertuie skud dat jou tande opmekaar klap. En die stofwolke is verstikkend. Baie ouens dra maskers om die stof uit hulle longe te hou.

Uiteindelik bereik ons die afdraaipaadjie na Djabula. Maar nie sonder 'n probleem nie - die kombi se knormoer of iets knor en weeklaag! Van die stamperige pad het hy skoon uit sy boute uitgeskud. Alles word uitgepak en die werktuigkundige, Big Vee spring aan die werk. 'n Halfuur later pak ons die laaste dertig kilometer sagte sandpad aan na ons bestemming, dertig nagmerrie kilometers.

En dan uiteindelik, 'n volle veertien pynlike ure na ons vertrek is daar Djabula!

'n Enkele langwerpige geboutjie wat dateer uit die tydperk lank voor die oorlog, is ons hoofkantoor. Daarin is twee primitiewe badkamers sonder lopende water, verder is dit 'n vertrek wat as kombuis en stoorkamer dien. Langsaan is die bouval van iets wat eens op 'n tyd 'n buitegebou kon wees. Hierin is die put wat al die water voorsien - dit word met 'n emmer geskep diep uit sy ingewande. Daar is ook 'n kookskerm ingerig waar badwater gekook word vir die span. 'n Groep vroue van die Djabula gemeente kamp hier uit op hulle slaapmatjies rondom 'n vuur. Hulle taak is om die kamp te versorg.

Ons slaan tente op, en skaars begin die skemer daal, of die heerlike geure van kerrie begroet ons uit die kombuis, waar die kookspan bontstaan om vir 34 mense 'n aandete saam te slaan. In die weste sak die son agter 'n groot heldergroen boom in, bloedrooi en vurig. Die aand is mooi.

Die aandprogram is eenvoudig: videos word vertoon vir die kinders. Dit is skaars verby, of ek slaap soos 'n klip.

Ek word wreed uit my soete drome geruk as 'n haan dringend begin kraai reg langs my tent. Dit kan tog nie alreeds oggend wees nie?!! Dis tweeuur in die more! Ken die ding nie sy tyd nie?

Sondag

Die oggend breek aan met 'n lied in die hart. Ek word begroet met 'n rustige bedrywigheid. Stoom borrel uit die potte in die kookskerm. Eenkant sit 'n groepie vroue om 'n vuurtjie. Twee makoue kom verby gewaggel. 'n Hen met 'n halfdosyn piepklein kuikentjies kloek-kloek al skroppende in die sand. O, het ek vergeet om te sê? Dis sandwêreld hierdie. Nie 'n klip van 'n dag oud in sig nie, net sand, sand, sand en nogmaals fyn, sagte sand wat oral inkruip!

Na ontbyt vat ons die pad kerk toe. Ons gaan te voet. Op 'n lang streep tou ons in die sandpad af, die uitreikspan en al die vroue wat hier werk. Later draai ons af en kronkel deur die bos op 'n klein voetpaadjie van los sand. Dit begin warm word.

Uiteindelik, na 'n halfuur se stap, doem die kerkgebou voor ons op. Daar staan 'n halfklaar gebou wat eendag 'n mooi kerk sal wees. Maar die gebou waar ons nou gaan kerkhou is 'n sink afdak met mure van stokke. Die kerkbanke is rowwe houtstompies waarop jy jou baie versigtig moet balanseer.

Van oral uit die bos stroom mense vir die hoogtepunt van die week - sommige moet tot tien kilometer stap om daar te kom. Die Djabula stamkaptein daag ook op, geklee in sy khaki uniform.

Saam met ons is 'n predikant van die Baptiste kerk in Amerika. Michael John is 'n leraar in die Market Street kerk in Boston, Massachusetts. Lou Regan, sy ouderling vergesel hom, en so ook Pastoor Mandla van Swaziland en Rev. Jacob Moses van Bethany Baptiste gemeente in Tongaat.

Die span se sanggroep begin om die lofprysing te lei, en almal sing lustig saam. Weldra vul hemelse sang die bosse van Djabula. In tipies Afrika styl gaan dit hand aan hand met vrolike dans en handeklap, en 'n luide Amen! aan die einde van elke liedjie.

Eers is daar 'n boodskap aan die kinders. 'n Paar jongmense illustreer die verhaal van die barmhartige Samaritaan.

Dan kom Rev. Michael John aan die beurt. Meesterlik verduidelik hy met behulp van 'n groepie jongmense wat illustreer, die baie moeilike konsep van God Drie-Enig.

Die son bak genadeloos op die sinkdak wat amper aan jou kop raak. Maar kerk is, na 'n paar uur en nog 'n paar entoesiastiese liedere verby, en die lang tou kronkel deur die bosse terug na ons kamp.

Sondagmiddag is dit siekeboeg tyd, en in hulle hordes daag mense op met al hulle skete en kwale, en die mediese span moet net bontstaan om almal te behandel.

Sondagaand se lofprysing word met musiekvideos gedoen, en 'n groot skare mense sing al dansende lustig saam. Die aandboodskap volg, en 'n groot groep mense gee hulle harte aan die Here. Dit was 'n uiters suksesvolle dag!

Die haan het so half-en-half die boodskap gekry, en hy kraai darem nie weer tweeuur nie. Maar dit was nog bitter vroeg toe sy kraaie deur die kamp weerklink. Sy lewe hang aan 'n dun lyntjie! Sommige manne noem die woord "kerriepot" terwyl hulle in sy rigting beduie.

Maandag

Oggendstond het goud in die mond, en kort na vyf begin die manne (en vroue) hulleself uit die vere skud. Vandag wag daar 'n lang, harde dag op ons. Almal is baie opgewonde, want ons gaan 'n nuwe onbereikte area verken.

Na 'n inspirerende oggendoordenking, gelei deur Sarie, val ons in die sandpad na Inhamane. Daar is 'n skool wat deur die regering van Swede geskenk is. Met ons aankoms is daar alreeds 'n noodgeval wat op ons wag. Na 'n bakleiery die vorige aand, is 'n jong seuntjie beseer. Een van die bakleiers het probeer om sy tone af te kap! Die mediese span moet inspring om te red wat daar te redde is!

Intussen het 'n groepie jongmense begin om vir die kinders in die skool 'n Bybelles te gee. Dit word opgevolg met prente inkleur en speletjies. Die kinders is baie opgewonde.

Later ry ons 'n ent verder na waar ons alreeds 'n groot groep mense aantref wat op ons wag. Ek moet hoor dat hierdie mense nog nooit kerk gehad het in hulle gebied nie. En hulle is opgewonde om te hoor wat op hulle wag. Weereens word daar begin met 'n entoesiastiese lofprysing, gevolg deur 'n vurige preek deur Djabula se Evangelis, Pastoor Mike Dlamini, 'n ware steunpilaar. Daar word 'n beroep gedoen op mense om hulle harte aan Jesus te gee. Maar die mense is bang vir die vreemdelinge. Uiteindelik skraap twee vroue al hulle moed bymekaar en tree na vore. Nog 'n paartjies volg, en uiteindelik staan daar nie minder nie as drie en dertig manne, vroue en jong kinders wat 'n oorgawe aan Jesus maak. Ek is in ekstase! Hier staan 'n splinternuwe kerk!

More sal begin word met opvolgwerk. Vir 'n begin moet almal Bybels kry.

Intussen borrel en kook dit in die "kombuis" onder 'n boom. Reuse potte pap en shiba word vir al die kerkgangers voorberei. Wanneer die tou inval om kos te kry, staan daar sowat 250 kinders alleen. Ek sluk hard aan die knop in my keel.

My voete is bitter seer en soos balonne opgeswel, maar in my hart jubel en juig dit!

Maar dan is dit weer in die pad val terug na Djabula. Vanaand is my beurt om die "crusade" te lei. Wat sê ek vir die mense?

Dinsdag

Die oggend begin met 'n oordenking en lofprysing. Gisteraand se "crusade" het goed afgeloop. Die boodskap was die gelykenis van die saaier. Ons durf nie ophou saai nie, al lyk dinge ook hoe hopeloos.

Die algemene gevoel is dat die Bose gladnie gelukkig is met ons welslae nie. Twee priesters van die Twaalf Apostels het gister se diens bygewoon, en die mense was gevul met vrees oor wat hulle sou oorkom as hulle vir Jesus ja sê. Gedurende die oordenking word daar dringend gebid vir God se beskerming en ingryping in die situasie.

Dan begin ons kospakkies opmaak. Groot sakke meelblom, mieliegruis en droë bone word in klein sakkies verpak. Daar word 70 kospakkies opgemaak met kerse, sousboontjies, meel, knorrox en nog baie meer in. Dit sal later die dag uitgedeel word.

Teen die tyd dat ons moet vertrek, is dit so warm dat die kraaie gaap, dit wil sê as hier kraaie sou wees. Ek dink hulle het almal gevlug vir die hitte! Op die ruwe sandpad na Inhamane word ons pynlik uitmekaargeskud. Wat wag daar op ons? Het gister se boodskap inslag gevind?

Ons ry tot by die groot boom van Inhamane, maar tot ons groot teleurstelling is daar nie 'n siel in sig nie. Ons wag. 'n Uur gaan verby. Die duistere teenwoordigheid wan die bose is aanvoelbaar - oral in die bome is daar skedels en stukke vel van diere wat die geeste moet gelukkig hou. Die neerdrukkende hitte raak ondraaglik. Dan hoor ek geluide agter my. As ek omkyk sit daar 'n tiental vroue wat wag vir wat ookal gaan gebeur. Stadigaan groei die groepie. Mans en kinders kom ook by, totdat daar 'n uur later 'n horde mense in groot afwagting sit.

Wanneer daar 'n paar honderd mense bymekaar is, roep Pastoor Mike almal tot orde. Na lewendige lofprysing laat hy hulle sit en lewer hy 'n vurige preek. Die priesters van die Twaalf Apostels sit ook norsgesig daar om te hoor wat in hulle gebied aangaan. Die mense is baie bang oor wat daardie streng manne aan hulle gaan doen, maar ten spyte daarvan gee nog dertien vroue hulle lewe aan die Here.

Een van die vroue met die mooi naam Maria, is besete met demone. Pastoor Gerald bid vir haar en sy word bevry, terwyl ons almal 'n muur van gebed rondom haar vorm. Trane loop vryelik oor my wange - dit is 'n baie emosionele oomblik.

Later word die groot sleepwa uitgepak. 'n Berg klere kom te voorskyn. In lang rye staan die mense opgewonde en kyk terwyl elkeen, van speenoud tot stokoud iets kry.

En dan was daar "Pastoor" Tyran. Al die kinders word bymekaargebring, en na 'n lewendige lofprysing, neem die elfjarige Tyran stelling in. Al die kinders hang aan die lippe van hierdie seuntjie terwyl hy 'n Bybelstorie vertel. So goed kwyt hy hom van sy taak dat hy net daar en dan herdoop word na Pastoor Tyran. Ja, selfs 'n kind kan getuig van Jesus!

Die son sak, en teen hierdie tyd het die skare aangegroei tot 'n malende massa. Ons beleef 'n verruklike sonsondergang terwyl dit by die reuse kospotte borrel en kook. Die kragopwekker word aangeskakel, en onder uitroepe van verbasing en verwondering word die ligte aangeskakel. So wat het hierdie mense nog nooit beleef nie! Maar wanneer die videoprojektor sy beeld op die skerm gooi, ken hulle opgewondenheid geen perke nie! Daar word musiekvideos gespeel met liedere in hulle eie taal deur 'n baie gewilde sanger. Hulle dans en sing lustig saam.

Intussen is die kos gereed, en in rye wat strek van hier tot in die Kaap staan mense en wag vir 'n geurige gereg van pap en bokvleisbredie.

Die aand sluit af met nog 'n vurige preek deur Pastoor Mike, en 'n verdere vyf manne wat hulle lewe vir die Here gee. Dus nou al 'n totaal van 51 mense wat in Inhamane tot bekering gekom het. Ons is in ekstase! Die Bose het 'n groot nederlaag gely!

Doodmoeg ry ons laatnag al skuddende die paadjie terug na Djabula. Dit was 'n uitmergelende dag. Uitgeput werp ek myself neer op my kooi nadat 'n dik laag stof eers in die primitiewe badkamer afgewas is. Vannag gaan ek lekker slaap!

Maar ek het nie tred gehou met die haan nie! 'n Klompie kinders maak vir hulle 'n vuurtjie iewers agter my tent, en hulle kuier redelik luidrugtig tot na middernag. Deur dit kan ek nog geslaap kry. Maar dan besluit die haan dat hy vir 'n middernagtelike wandeling wil gaan. Die kinders sien hom, en operasie jag-die-haan begin. Al gillende en laggende word die verskrikte dierasie tussen die tente deurgejaag, totdat iemand hom uiteindelik vang. Die haan skree blou moord, en my soete slaap is wreed daarmee heen!

Maar die haan het dit wonderbaarlik oorleef, en so kort na drie is hy alweer flink op sy pos en kraai uit volle bors dat dit weergalm tussen ons tente. As ek hom in die hande kry..........!

Woensdag

Woensdagoggend breek baie traag aan - die klomp is nie baie lus vir opstaan nie.

Na Amy se inspirerende oordenking begin ons gereed maak vir een van die groot hoogtepunte van die uitreik. Oor die afgelope tydperk war daar 'n klompie nuwe bekeerlinge in die Djabula gemeente, en die tyd het aangebreek dat hulle gedoop word. 'n Opblaas swembad word opgeslaan in die bouval waar die put is, en emmer-vir-emmer word dit volgemaak. Die put is diep, en dit is harde werk om die water op te hys, dus neem dit 'n paar uur om die swembad vol te maak.

Uiteindelik is alles gereed, en Pastoor Gerald lei die doopdiens. Breedvoerig verduidelik hy die betekenis van alles sodat elke dopeling baie duidelik verstaan waarvoor hy en sy hulle voor inlaat. Geloof in Jesus is van kardinale belang, want daarsonder mag 'n volwasse mens nie gedoop word nie. Daar moet 'n lewende verhouding met Jesus wees, maar dit beteken ook dat die persoon 'n toegewyde lewe leef tot eer van God.

Dan breek die groot oomblik aan en die dopelinge word aangetree. Daar heers 'n groot gees van afwagting en almal kom vorm 'n kring rondom die dopelinge. Ignes besluit dat die beste plek om foto's te neem, bo-op die murasie is. Soos 'n wafferse bobbejaan klouter hy op en maak homself gemaklik op die muur, hoog bo die doopbad. Pierre word aangestel om te help om die dopelinge se kop onder die water te druk. Hy is 'n Proponent in die NG Kerk, en die kerk se siening van die doop verskil van dié van die Baptiste. Ek wonder hoe hy eendag aan sy gemeente gaan verduidelik dat hy deel was van 'n Baptiste doop plegtigheid!

Die emosies loop hoog as die vyftien dopelinge een-vir-een in die doopbad klim en onderdompel word. Vir 'n jong gemeente uit die heidendom is hierdie 'n groot oomblik, en weereens kan ek nie my emosies beteuel nie.

Na die doop word nagmaal bedien aan al die dopelinge. Ek lees groot opgewondenheid op die gesigte. Die kerk in Djabula groei met rasse skrede ten spyte van die aanslae van die bose.

Die uitreik loop nou einde se kant toe. Die mediese span behandel vir oulaas 'n lang tou siekes, en dan kom die groot oppak. Maar eers word daar drie bokke geslag wat vir die mense van Djabula gaargemaak word. 'n Bietjie van die vleis word vir die span uitgehou, en aandete is bokbredie. Heerlik! Kort na middernag vertrek ons terug na Suid-Afrika, weereens 'n uitmergelende rit wat dertien uur duur. Almal is doodmoeg, en daar word met 'n groot verlange uitgesien na 'n behoorlike warm bad en 'n sagte bed.

Ek dink skielik weer aan die mense van Djabula en die omgewing. Die nood is bitter groot, geestelik sowel as die stoflike. Pastoor Mike sal dringend 'n voertuig moet kry, want skielik het sy gemeente verdubbel oor 'n baie groot area. Te voet, of selfs per trapfiets kan hy dit nie behartig nie. Dalk is daar iemand wat vir daardie toegewyde Godsman 'n motorfiets of bromponie wil gee. En dalk is daar 'n groep mense wat daar wil gaan werk vir 'n week - dalk 'n kerkgeboutjie iewers oprig en evangelisasiewerk doen. Die mense van Djabula en veral ook Pastoor Mike het baie gebed nodig!

Die klein, arm gemeentetjie in Shakaskraal reik drie keer per jaar uit na Djabula. Dalk wil jy hulle steun in hierdie reuse werk wat hulle met soveel blymoedigheid doen.