Dinsdag 19 Augustus 2014

Dominee se Dagboek

Die Dagboek van Dominee X
Maandagoggend 7-uur
Liewe Dagboek, wat 'n heerlike lekkerte om net weer 'n Maandag te kan hê waar ek kan uitrus na al die naweek se spanning. Maar eers moet die kinders by die skool kom, want Vroulief moes vroeg by die werk wees. Ek het só uitgesien daarna om 'n bietjie ekstra tyd deur te bring met die Here, maar nou sal ek eers moet ry.
08:30
Dis weer ekke. Die verkeer was nogal kwaai vanoggend, en boonop het een van die Mammies by die skool toe nou eers groot gesels. Wil raad hê oor haar huwelik. Sy is nie eers in my gemeente nie, maar dis mos maar gerieflik as daar toevallig 'n dominee (én huweliksberader) verbyloop!
Maar wag, ek gaan my mos nie nou daaroor staan en verknies nie. Nou is dit tyd om ernstig te ontspan. Dalk 'n paar putjies gholf gaan speel. Dis hoeka so 'n perfekte dag.
Sjoe my ou vriend, so ampertjies vergeet ek van Donderdag se begrafnis. Ek sal maar dadelik aan die werk moet spring en 'n preek begin voorberei daarvoor. Koebaai gholf!
12:30
Hallo my geduldige ou Dagboekvriend, ek vat net gou 'n breek om vinnig met jou 'n woordjie te wissel. Ek sit nou al vier ure met die preek vir die begrafnis en worstel, en dit voel vir my of ek nêrens kom nie. Dalk is dit omdat die telefoon vanoggend al twintig keer gelui het! Besef die gemeente nie dat Maandag die dominee se rusdag is nie?
Maar nou moet jy my eers verskoon, ek het so pas inspirasie gekry vir Sondag se preek. Ek moet gou 'n paar notas maak voordat ek vergeet. O, en amper vergeet ek om die kinders by die skool te gaan optel. Nou sal ek moet spring! Hoop nie ek kry vanmiddag weer 'n kwaai verkeersknoop nie. Sal maar weer later vanmiddag werk aan die begrafnispreek.
14:00
Ou Dagboek, net gou 'n vinnige notatjie: Tant Sannie se blindederm het gebars. Sy lê kritiek in die plaaslike hospitaal. Moet gou daarheen jaag.
16:00
Dis ek, die dominee wat so kronies op jou skouer huil! Ek is emosioneel uitgeput. Dit was toe nie net Tant Sannie vir wie ek moes moed inpraat nie, maar al die familie was daar. Klein Sannietjie was histeries en ek moes haar eers by haar sinne kry. En Sarel bly knaend kwelvrae vra. Wil weet waarom dit nou juis met Tant Sannie moes gebeur, en waarom God so wreed is om haar te straf. Watse verskriklike sonde het sy dan gedoen? En is daar ooit 'n God? Jy sien die klomp nóóit in die kerk nie, maar wanneer daar nood is moet die kerk spring!
23:30
My liewe ou vriend, dis nou al byna middernag, en ek kan nou nie meer nie. Ek het vanmiddag onthou van Saterdag se troue, en daarvoor moet óók nog 'n preek kom. Oorl'e Oom Gert se familie het almal vanmiddag hier aangekom om sy begrafnis te bespreek. Hulle weet nie wátter kant toe nie, en ek moet help met al die reëlings. Kort voor aandete is hulle eers hier weg.
Ek het drie preke om voor te berei. Ek het skaars Vroulief se lekker kos geproe. Dis net werk, werk, werk om deur alles te kom.
Wat het tog van my Maandag-rusdag geword?!!
Dinsdagoggend, 06:00
My liewe vriend Dagboek,
Oggendstond het goud in die mond, en vandag gaan ek dit rustig vat. Al wat ek vandag hoef te doen is om drie preke voor te berei. Die slim mense sê dat jy een uur voorbereiding doen vir elke minuut van preek. Dus drie preke van dertig minute elk, is slegs 90 uur se voorbereiding. Hoeveel ure is daar nou weer in 'n dag?
O, en amper vergeet ek van vanoggend se Vroue Bybelstudie wat ek moet gaan lei. Dit sal darem nie te veel van my ure opvreet nie. En ek moet 'n sakie by die kerkkantoor gaan uitklaar. O ja, en ek durf nie vanaand se kommissievergadering vergeet nie. Dit behoort darem nie later as nege-uur aan te hou nie. En ai toggie! Vanmiddag is dit mos weer tyd vir die byeenkoms van predikante van al die kerke in die dorp. Waar gaan ek alles inpas?
Maar nou moet ek eers groet, want ek moet preek voorberei!
23:30
My ou mater, ek's gedaan! Die vergadering het toe tot elfuur aangekarring! Maar môre is nog 'n dag. Môre sal ek aan my preek werk.........
Woensdag, 05:30
Dis Woensdag, liewe Dagboek, Woensdag, en ek het nog nie 'n preek vir môre se begrafnis nie, en ook nie vir Saterdag se troue óf Sondag se erediens nie. Vandag sonder ek my af. Vandag antwoord ek g'n telefoon nie! Nou moet ek eers 'n koppie sterk swart koffie kry om my moed te gee vir die dag......
11:00
Liewe Dagboek, ek is moedeloos! Die deurklokkie het nie minder nie as nege keer gelui. Dit was bedelaars, die Jehovah's Getuies wat my wou bekeer, en toe kom Oom Servaas om maar net 'n bietjie te kom gesels. En hy het 'n laaaaang asem! Ek waardeer die omie se belangstelling, maar sy tydsberekening was net 'n bietjie verkeerd. Van preekmaak het daar maar bitter min gekom. Vannag werk ek weer tot in die vroeë oggendure.
15:00
My geduldige ou vriend, net toe ek nou dink dat ek lekker aan die werk kom, lui die telefoon – 'n krisis by die kerkkantoor met iemand wat dringend met 'n dominee wou praat. Arme siel wat op straat sit en almal het hom verlaat. Wat kon ek maak? Ek moes maar gaan gesels! Daar was vandag nie eers tyd vir middagete nie. Maar verskoon my, ek het 'n preek om te maak.
20:00
Geduldige ou dagboek, ek is weer aan die kerm. Vanmiddag het tant' Truitjie, dis nou Oorl'e Oom Gert se weduwee, se senuwees ingegee. Die vooruitsig van die begrafnis het nét té veel vir haar geword, en ek moes gaan troos en moed inpraat. Die begrafnispreek is darem nou al klaar. Ek het nog nie eers gedink aan Saterdag se troue nie – sal iewers tussenin daaraan moet begin werk.
En dan het ek so pas onthou van die Sinodale verslag wat ek moet klaarmaak voor Vrydag. Wanneer gaan ek dit nog inpas?
12-uur Middernag
Nou wil my oë nie meer saamwerk nie. Nag my ou mater.
Donderdag, 05:00
Die nag kan tog nie al verby wees nie? Ek het dan nog maar skaars in die kooi geklim. Ek sien nie uit na vandag nie – dit lê soos 'n swaar klip op my skouers. Ek wonder hoe dit gaan met Tant' Truitjie? Maar nou moet jy my eers verskoon, want as ek nie nou stilword saam met die Here nie, gaan ek dit nóóit deur die dag maak nie.
12:00
Die begrafnis het gekom en dit het gegaan. Dit was maar 'n droewige affêre, en ek het baie swaar gepreek. Ek moes troos vir 'n vale, want almal het sit en tjank. Ek troos my darem daaraan dat ek 'n goeie preek ingekry het vir 'n hele klomp ouens wat waarskynlik jare laas die binnekant van 'n kerk gesien het. Ek bid dat die boodskap iewers getref het. Dit is eintlik 'n reuse geleentheid om die saadjies van die Evangelie te saai op 'n braakland!
Maar nou kan ek uiteindelik werk aan Sondag se preek.
18:00
Sjoe! Amper vergeet ek! Ek was só verdiep in my werk om preek te maak, dat dit my totaal ontgaan het van vanaand se selgroep-byeenkoms. Ek durf dit nie misloop nie, want hierdie is die enigste geleentheid in die week waar ek 'n bietjie kan terugsit en luister sonder om self leiding te neem. Ek smag só daarna om ook 'n bietjie omgee te beleef. As dominee moet ek net gee, gee, gee, en hier kan ek vir 'n verandering ontvang. Dit is vir my kosbare oomblikke.
Ek is gelukkig darem amper klaar om my preek te skryf. Hierna begin die groot werk om die preek in my geheue en my hart te kry sodat ek uit die hart kan praat met die gemeente. Hoe wonderlik is dit nie om die troos te hê dat wanneer ek op daardie kansel klim, dan is dit nie ek nie, maar die Heilige Gees wat oorneem en deur my praat.
23:30
Selgroep was vanaand weereens 'n groot fees. Ek het verryk daarvandaan teruggekom, propvol inspirasie vir my preek vir Sondag. Dit het nou wel gekos dat ek 'n hele paar veranderinge moes maak – dit het ek sommer gedoen na selgroep vanaand. Maar nou is dit tyd om op te hou werk – môre is nóg 'n dag!
Vrydag, 04:30
Ja, vanoggend spring ek maar vroeg weg, want ons het half ses ons manne biduur, en ek wil darem nog eers stiltetyd hou voor ek gaan. Dis heerlik om so vroeg saam met die manne 'n koffietjie te drink en te bid vir die gemeente en die gemeenskap. Dit gee my ook sommer nuwe krag om hierdie moeilike dag aan te pak. Vandag moet ek werk aan die preek vir more se troue.
12:00
Van preekmaak het daar tot dusver nog nie veel gekom nie. Ek het skaars begin werk, toe die telefoon dringend lui. Hy het mos so 'n anderste klankie aan hom as dit dringend is! Dis toe die bruid wat koue voete gekry het, en sy wil die troue summier afstel. Ek sit al heel môre en troos en huweliksberading doen. Die troue gaan darem nou weer voort. Ek bid dat daardie huwelik gaan hou!
Maar nou kan ek darem weer aangaan.
18:00
Ek is steeds nie klaar met die preek nie! Ek het skaars begin werk, toe daag 'n afvaardiging vroue by die pastorie op. Hulle is bitter ontsteld oor die reëling met teeskink en die blommerangskikkings in die kerk, want Saartjie vat net oor, en húlle het nie meer 'n sê nie. Ek moet asseblief met haar gaan praat.
En die gesprek hou ure aan! My hele middag is in sy peetjie in!
Iets tref my nou net: daar is mos vanaand 'n jeugaand! Dankie tóg dat ek dit nie meer sélf hoef te hanteer nie. Maar ek sal daar 'n draai móét maak! Ek geniet die jongense se lawwighede, en ek weet nou al dat hulle my nie vinnig daar gaan laat wegkom nie. Vannag werk ek weer tot middernag.
Saterdag, 09:00
Nee my ou Dagboekmaat, ek het beslis nie laat geslaap nie! Ek was vanoggend al voor hanekraai uit die kooi! Ek moes gou gaan kyk of alles reg is vir vanoggend se pannekoekstalletjie. Gelukkig het ek darem my preek vir vanoggend se troue onder die blad gekry. Oor twee ure staan die paartjie voor die kansel (as die bruid nie weer koue voete kry nie!)
17:00
Die rugbywedstryd gaan nou enige oomblik afskop – Bokke teen die All Blacks. Hierdie wedstryd moet ek egter maar laat verbygaan, want ek het nog finale voorbereidings om te doen vir môre se Erediens – dit is belangriker as rugby. Die manne het my uitgenooi om saam te kom braai na die wedstryd. Hulle kon nie verstaan toe ek dit van die hand moes wys nie. Ek sou bitter graag saam met hulle wou kuier. Dit is nie maklik om dominee te wees nie.
Sondag 15:00
Dankie tóg! Die week is verby! Soos my gewoonte is, het ek vyfuur vanoggend net vir oulaas deur my preek gegaan. Na die Erediens vanoggend, moes ek soos gewoonlik eers die finale jaar katkisante hanteer terwyl die gemeente heerlik saam kuier en koffie drink. Daarna 'n Kategetevergadering wat amper tot middagete aangehou het.
Maar uiteindelik kan ek 'n uurtjie of twee rustig saam met my gesin deurbring. Hoe salig! En die heerlike vooruitsig dat dit môre mos Maandag is, die dominee se afdag. Môre gaan ek 'n lekker rondte gholf speel. Ek hoop........
Dankie vir jou geduld, ou maat, dat jy so gewillig na my geluister het hierdie week. As jy nie 'n boek was nie, het ek jou gevra om vir my te bid.
Jou vriend,
Dominee X