Maandag 15 September 2014

Swart Land

Dis vandag hier so warm dat die kraaie gaap. Dis tyd vir middagete, en ek slaan vir my 'n toebroodjie aanmekaar en gaan sit dit behaaglik en eet onder die koel skaduwee van 'n mangoboom.
Voor my ontvou 'n prentjie – dalk nie die mooiste prentjie wat ek al gesien het nie. Vroegoggend is die suikerland teen die oorkantste berg afgebrand. Nou lê daar 'n reuse stuk swartgebrande aarde waar die suikerriet gister nog soos golwe op die see gewuif het in die wind.
Dit was alreeds warm toe die brand begin het, en die wind het gewaai, gevolglik het 'n stuk woud ook begin brand. Dis 'n deurmekaar bos van inheemse bome, bloekombome en digte indringerplante, hoofsaaklik terpentynbos. En nou staan die bos steeds gehul in 'n rookwolk en snikhete vlamme.
Maar dit is nie die brand en die swart suikerland wat my aandag trek nie. Dit is 'n klomp rietkappers! Die vlamme het vanoggend nog nie eers behoorlik bedaar nie, toe spring die klomp alreeds met hulle kapmesse in en begin die riet te kap. Elkeen het 'n afgebakende lap riet wat hy moet kap. En dit is nie net manne nie, maar vroue ook, wat hierdie genadelose arbeid moet verrig.
Waar ek hier onder die boom sit, stroom die sweet my af. En die werkers daar op die berg kap en kap en kap onverpoosd voort onder die skroeiende strale van die son. Nêrens is daar 'n sweempie van 'n skadu'tjie nie, net die versengende hitte. En boonop kry hulle nog kort-kort 'n dosis van die verstikkende rook waar die brand steeds voortwoed in die woud reg langs die suikerland.
Ek kry nuwe respek vir hierdie span rietkappers. Teen 2-uur die middag is daar alreeds 'n paar hektaar riet afgekap. Bondels riet lê in lang rye teen die berghang op. En steeds kap en kap en kap hulle voort.
Skielik kom daar 'n groot dankbaarheid oor my, dat ek 'n ligte werkie het in die gemak van my huis. Wat 'n heerlike voorreg. Wat het ek gedoen om dit te verdien?
Genade! Genade alleen.........

Dinsdag 02 September 2014

Mosambiek Uitreik

Groot opgewondenheid het gisteraand geheers in die klein kerkie in Shakaskraal. Die span wat saamgaan op die Mosambiek uitreik het vir die eerste keer bymekaar gekom.
Die uitreik is van 3 tot 9 Oktober, en ons gaan na 'n feitlik onbekende plekkie met die naam Jabula. Dit is iewers tussen niks en nêrens in die suide van Mosombiek, en daar is feitlik géén fasiliteite nie. Water word getrek uit 'n put, en nét dáár eindig alle luukshede.
Ons span gaan onder leiding van Rev. Gerald Chetty van die Shakaskraal Community Church om 'n verskil te maak in die lewens van 'n gemeenskap waarvan die wêreld vergeet het. Daar gaan, op geestelike vlak, eerstens baie op die kinders gekonsentreer word. Ons gemeente se jeugwerker, Pierre Burger gaan saam, en sy energie en entoesiasme beloof om die kinders 'n onvergeetlike ondervinding te gee.
In kort, is die doel van die uitreik in die eerste plek om die Evangelie te bring aan die mense. Daar gaan dus kerk gehou word, films vertoon word, en die Evangelie gaan gedeel word met almal wat wil luister. Basies gaan daar omgesien word na die geestelike behoeftes van die mense.
Maar op materiële vlak gaan daar ook voorsien word: Stapels kos en klere word daarheen aangery. Daar gaan ook 'n span saam wat na die mediese behoeftes gaan kyk. Ons het nie 'n dokter wat gaan nie, maar daar is kundige verpleegsters.
Ons behoeftes op hierdie stadium is eerstens vir baie gebed, want hierdie gebied is steeds deeglik onder die mag van toordokters.
Verder het ons nog baie kosvoorrade nodig om saam te neem, soos mieliemeel, suiker, kerse, bone, olie ens. En dan natuurlik klere vir volwassenes, maar veral vir kinders.
En dan is daar die plaaslike pastoor en sy medewerkers – hulle moet dikwels drie tot vyf ure stap om by 'n kerkie of by mense uit te kom. Ons sou graag vir hulle 'n fiets of twee wil gee om hulle taak te vergemaklik.
As die Here dit dalk op jou hart lê om 'n bydrae te maak vir hierdie uitreik, kan jy my gerus skakel by 082 771 4925 of vir Rev. Chetty by 072214 1725. Of jy kan 'n inbetaling doen in die rekening hier onder. Merk asseblief net die inbetaling duidelik: MOSAMBIEK sodat dit na die regte kanaal kan gaan.
Bankbesonderhede
Rekening Naam N G Gemeente Noordkus
Rekening Nommer 53731659860
Tak Kode 220129
Bank: FNB Ballito

Groetnis,

Louis