Maandag 15 September 2014

Swart Land

Dis vandag hier so warm dat die kraaie gaap. Dis tyd vir middagete, en ek slaan vir my 'n toebroodjie aanmekaar en gaan sit dit behaaglik en eet onder die koel skaduwee van 'n mangoboom.
Voor my ontvou 'n prentjie – dalk nie die mooiste prentjie wat ek al gesien het nie. Vroegoggend is die suikerland teen die oorkantste berg afgebrand. Nou lê daar 'n reuse stuk swartgebrande aarde waar die suikerriet gister nog soos golwe op die see gewuif het in die wind.
Dit was alreeds warm toe die brand begin het, en die wind het gewaai, gevolglik het 'n stuk woud ook begin brand. Dis 'n deurmekaar bos van inheemse bome, bloekombome en digte indringerplante, hoofsaaklik terpentynbos. En nou staan die bos steeds gehul in 'n rookwolk en snikhete vlamme.
Maar dit is nie die brand en die swart suikerland wat my aandag trek nie. Dit is 'n klomp rietkappers! Die vlamme het vanoggend nog nie eers behoorlik bedaar nie, toe spring die klomp alreeds met hulle kapmesse in en begin die riet te kap. Elkeen het 'n afgebakende lap riet wat hy moet kap. En dit is nie net manne nie, maar vroue ook, wat hierdie genadelose arbeid moet verrig.
Waar ek hier onder die boom sit, stroom die sweet my af. En die werkers daar op die berg kap en kap en kap onverpoosd voort onder die skroeiende strale van die son. Nêrens is daar 'n sweempie van 'n skadu'tjie nie, net die versengende hitte. En boonop kry hulle nog kort-kort 'n dosis van die verstikkende rook waar die brand steeds voortwoed in die woud reg langs die suikerland.
Ek kry nuwe respek vir hierdie span rietkappers. Teen 2-uur die middag is daar alreeds 'n paar hektaar riet afgekap. Bondels riet lê in lang rye teen die berghang op. En steeds kap en kap en kap hulle voort.
Skielik kom daar 'n groot dankbaarheid oor my, dat ek 'n ligte werkie het in die gemak van my huis. Wat 'n heerlike voorreg. Wat het ek gedoen om dit te verdien?
Genade! Genade alleen.........

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking