Ek
moet groot om verskoning vra dag ek so lanklaas die blog geplaas het.
Hier by ons gaan dit op die oomblik doller as kopaf!
Bettie
is opgeneem in die rehabilitasie eenheid met 'n verstopping in die
dermkanaal. En vir die eerste week kon daar baie min met haar gedoen
word voordat hierdie probleem nie eers opgelos is nie.
Maar
uiteindelik is dit met groot moeite opgeklaar, en toe begin al die
“sports” in alle erns. Twee keer 'n dag oefen sy in die
gimnasium. Die fisioterapeut werk daagliks haar gal, en dan is die
arbeidsterapeut ook daar om haar deel te doen. 'n Dieetkundige hou
haar fyn dop en 'n sosiale werker sien om na haar algemene welstand.
Boonop monitor 'n dokter haar gedurig.
Bettie
is meer in 'n rolstoel as wat sy in die bed is, en daar is maar min
tyd om met haar duime te speel!
Daar
is elke dag 'n bietjie verbetering. Sy het nou al heelwat beweging in
haar bene, en sy kan al so ampertjies staan. Haar gemoedstoestand is
baie positief en sy is steeds haar ou vrolike self.
Donderdag
het al die verskillende mense wat met haar werk met ons as gesin 'n
vergadering gehad. Daar het hulle breedvoerig verslag gedoen van
alles wat met Bettie gebeur en van haar vordering. Ons het kans gekry
om met hulle te gesels en vrae te vra. Hierdie personeel is
wonderlik, en jy kan sien dat hulle waarlik omgee. Bettie is in baie
goeie hande, en ek is baie positief oor haar herstel.