Maandag 14 September 2015

Bettie: Dinsdag 15 September 8:00vm


Ek moet groot om verskoning vra dag ek so lanklaas die blog geplaas het. Hier by ons gaan dit op die oomblik doller as kopaf!
Bettie is opgeneem in die rehabilitasie eenheid met 'n verstopping in die dermkanaal. En vir die eerste week kon daar baie min met haar gedoen word voordat hierdie probleem nie eers opgelos is nie.
Maar uiteindelik is dit met groot moeite opgeklaar, en toe begin al die “sports” in alle erns. Twee keer 'n dag oefen sy in die gimnasium. Die fisioterapeut werk daagliks haar gal, en dan is die arbeidsterapeut ook daar om haar deel te doen. 'n Dieetkundige hou haar fyn dop en 'n sosiale werker sien om na haar algemene welstand. Boonop monitor 'n dokter haar gedurig.
Bettie is meer in 'n rolstoel as wat sy in die bed is, en daar is maar min tyd om met haar duime te speel!
Daar is elke dag 'n bietjie verbetering. Sy het nou al heelwat beweging in haar bene, en sy kan al so ampertjies staan. Haar gemoedstoestand is baie positief en sy is steeds haar ou vrolike self.
Donderdag het al die verskillende mense wat met haar werk met ons as gesin 'n vergadering gehad. Daar het hulle breedvoerig verslag gedoen van alles wat met Bettie gebeur en van haar vordering. Ons het kans gekry om met hulle te gesels en vrae te vra. Hierdie personeel is wonderlik, en jy kan sien dat hulle waarlik omgee. Bettie is in baie goeie hande, en ek is baie positief oor haar herstel.

1 opmerking:

  1. More Louis,

    sjoe dit was nou omtrent n lang asem-ophou wag vir hoe dit gaan. Ek het verlede week gevra, maar aangeneem dit gaan bietjie woes en dol.

    Ek is baie bly om die goeie nuus te hoor. Spin daai rolstoel Bettie! Enige mens wat so lank kan positief bly soos jy verdien ten minste n Porsche rolstoel. Jy is sommer n n groot inspirasie vir my, 1 dag nog ok, die volgende kan jy nie loop nie en kyk hoe goed hanteer jy al die dinge.

    Dankie vir jou en Louis en vir al julle Jesus liefde wat so uitstraal.

    Sterkte vir elke liewe dag, ons bid!

    Groete
    Alice

    AntwoordVee uit