Maandag 31 Augustus 2015

Bettie: Dinsdag 1 September 8:00vm


Vrydag het toe nou nie sonder sy haakplekke verloop nie. 9-uur die oggend lê my Mosbolletjie gespit en gepolish, gereed om te ry, maar ál wat kom is die ambulans. En sy wag! Dan kry ek 'n moedelose oproep van Bettie: Die ambulans het gebreek! Daar word 'n ander ambulans van Durban af gestuur, en twee ure later is sy uiteindelik op pad.
Wanneer sy haar lê gekry het in die rehabilitasie sentrum, kom kloek ál wat 'n dokter en verpleegster en terapeut om haar, en elkeen wil kom sien presiés wie en wat hulle mee te doen het. En dan is daar die 2000 vrae wat volg: Is jy swanger? Rook jy? Suip jy? Watter operasies het jy gehad, en wanneer? Tot vervelens toe!
Sy word uitgereik met 'n rolstoel, en dan kom twee verpleegsters en vervang haar nagklere met gewone klere. Hier word nie geslaap nie – hier word gelééf en gewerk!
Saterdagoggend kom twee dames ingewals: “Toe, toe, dis opstaantyd!” En vir die héél eerste keer in meer as 'n maand word sy uit die bed gehelp in die rolstoel in.
Vryheid!
Ontbyt gaan nuttig sy in die eetsaal aan tafel. O wat 'n wonderlike bevryding van die bed!
Naweke gebeur daar nie veel in die sentrum nie. Sy kry 'n sessie in die gimnasium, en Sondag spandeer ons 'n heerlike tydjie saam met haar. Sy word net saggemaak vir wat voorlê Maandag!
Maandag begin al die aktiwiteite in alle erns. Dis 'n fisioterapeut wat haar pynig, 'n arbeidsterapeut wat haar die geheime van die lewe leer, en boonop nog twee sessies in die gimnasium. Teen slaaptyd is sy poegaai!
Maar dit gaan baie goed met my Mosbolletjie. En ek verlang my vrek na haar!

4 opmerkings:

  1. Dit klink nou of jou dierbare Mosbolletjie op die regte plek is vir goeie versorging en herstel. Hoop dat sy elke dag sterker sal word. Bid vir haar gesondheid en vir jou wat haar en ons dagstukkievolgers so getrou bystaan.

    AntwoordVee uit
  2. Hierdie opmerking is deur die outeur verwyder.

    AntwoordVee uit
  3. Middag Louis,

    ek dink ek is nie die enigste 1 wat wonder hoe dit met Bettie gaan nie. Ek glo dis maar opdraande, maar ons is baie wat vir julle bid.

    Se vir haar baie liefde en groete van almal.
    Alice

    AntwoordVee uit
  4. Sterkte vir ou Bettie met haar boot camp mannewales en vir jou en Ria by die huis, ons bid vir julle!

    AntwoordVee uit