Ek
kan nie glo dat dit nou al die tiende blok is wat ek oor Bettie skryf
nie! En ek het nie eers elke dag geskryf nie!
Elke
keer as ek by haar kom gaan 'n bietjie beter. Die afgelope paar dae
help die fisioterapeut haar regop, en dan gaan sit sy op die kant van
die bed met haar bene wat afhang. Sy het selfs 'n loopraam uitgetraai
– nie geloop met hom nie, want die bene wil nog nie saamspeel nie,
maar sy kon al die gevoel kry van hoe om die ding te hanteer.
En
haar krismisboom van drupsakkies is besig om al sy blare te verloor.
Van die nege sakkies is daar nou nog net drie oor. Boonop kry sy ook
nie meer aarvoeding nie. Sy moes vanoggend haar laaste bloedplasma
omruiling gekry het, maar die dokters het besluit dat dit nie meer
nodig is nie, en daaroor is my Mosbolletjie natuurlik in die wolke,
want dit is 'n uitmergelende prosedore. Hulle gaan egter vandag begin
met 'n week-lange behandeling van steroïde.
Ek
het vanoggend vir haar 'n boodskappie gestuur om te sê hoe trots ek
op haar is, en hoe ek met haar brêg by almal. Dat sy so sprankelend
en vol vreugde kan wees tussen 'n klomp suurknolle, gaan my verstand
te bowe. Haar buurvrou probeer dit vir almal rondom haar moeilik maak
met haar gekerm en geskree op almal en ontevrede wees met alles in
die lewe. En sy het nog twee trawante elders in die waakeenheid wat
óók die lewe vir almal versuur. En my eie Mosbolletjie beur almal
rondom haar op met haar opregte blydskap. En dít ten spyte van al
die pype en naalde in haar, en ten spyte daarvan dat haar arms en
hande potblou is van die talle kere wat hulle bloed moes trek en nie
are kon kry nie.
My
Mosbolletjie, ek is baie trots op jou! En ek bewonder jou moed!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking