Donderdag 06 Augustus 2015

Bettie: Donderdag 6 Augustus 8:00vm


As jy by Bettie se hospitaalbed kom, sien jy 'n borrelende bondeltjie vreugde soos 'n sprankelende blom uitstaan tussen al die masjiene en pype en drade en sakkies wat goeters in haar are indrup. Agter haar, rye en rye monitors wat biep-biep en tjiep-tjiep maak, en elke kort-kort gaan daar die een of ander alarm af.
Ek kyk na haar arms – die blou kolle bedek amper die helfte van haar arms, en haar vingerpunte is vol swart kolletjies waar hulle haar elke uur prik om die bloed te toets. Op verskeie plekke op haar hande en lyf sit die bloedkolle waar die naalde in haar ingedruk is om die medikasie toe te dien. In elke lies is daar pype waar hulle dialise en bloedplasmavervanging doen.
Nogtans is sy opgeruimd en positief, en al verduur sy baie ongemak, kla sy nie. Skerts die hele tyd met die dokters en verpleegpersoneel wat soos bye om haar zoem. En elke besoeker wat daar kom word beloon met 'n glimlag wat dreig om reg rondom te gaan.
Maar ek is verward. Gisteraand het een van die spesialisdokters 'n lang gesprek met ons kom aanknoop om te verduidelik. Hy vertel dat sy deur 'n baie rowwe tyd is: haar niere het “opgepak”, maar nou funksioneer hulle bevredigend, alhoewel daar skade is. Sy het op 'n stadium ernstige septisema gehad, en hulle moes spook om dit onder beheer te kry. Dit kom ook uit in die gesprek dat die dokters nog gladnie seker is oor die diagnose nie. Hy is oortuig dat die wel Guillain-Barré syndroom is, maar van die ander dokters dink weer nie so nie.
Vieruur vanoggend, toe die reuse vragmotors gelaai met sand teen die berg verby ons huis opstoom, lê ek en worstel met die Here. “Ek verstaan gladnie Here! Alles is so deurmekaar!” Maar die Here vra nie van my om te verstaan nie, maar net om te berus, te hoop en te vertrou. En om in volle afhanklikheid na Hom op te kyk.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking