Maandag 31 Augustus 2015

Bettie: Dinsdag 1 September 8:00vm


Vrydag het toe nou nie sonder sy haakplekke verloop nie. 9-uur die oggend lê my Mosbolletjie gespit en gepolish, gereed om te ry, maar ál wat kom is die ambulans. En sy wag! Dan kry ek 'n moedelose oproep van Bettie: Die ambulans het gebreek! Daar word 'n ander ambulans van Durban af gestuur, en twee ure later is sy uiteindelik op pad.
Wanneer sy haar lê gekry het in die rehabilitasie sentrum, kom kloek ál wat 'n dokter en verpleegster en terapeut om haar, en elkeen wil kom sien presiés wie en wat hulle mee te doen het. En dan is daar die 2000 vrae wat volg: Is jy swanger? Rook jy? Suip jy? Watter operasies het jy gehad, en wanneer? Tot vervelens toe!
Sy word uitgereik met 'n rolstoel, en dan kom twee verpleegsters en vervang haar nagklere met gewone klere. Hier word nie geslaap nie – hier word gelééf en gewerk!
Saterdagoggend kom twee dames ingewals: “Toe, toe, dis opstaantyd!” En vir die héél eerste keer in meer as 'n maand word sy uit die bed gehelp in die rolstoel in.
Vryheid!
Ontbyt gaan nuttig sy in die eetsaal aan tafel. O wat 'n wonderlike bevryding van die bed!
Naweke gebeur daar nie veel in die sentrum nie. Sy kry 'n sessie in die gimnasium, en Sondag spandeer ons 'n heerlike tydjie saam met haar. Sy word net saggemaak vir wat voorlê Maandag!
Maandag begin al die aktiwiteite in alle erns. Dis 'n fisioterapeut wat haar pynig, 'n arbeidsterapeut wat haar die geheime van die lewe leer, en boonop nog twee sessies in die gimnasium. Teen slaaptyd is sy poegaai!
Maar dit gaan baie goed met my Mosbolletjie. En ek verlang my vrek na haar!

Donderdag 27 Augustus 2015

Bettie: Vrydag 28Augustus 7:00vm


Dis vandag groot opgewondenheid hier by die Nelle. Nege-uur vanoggend laai hulle my Mosbolletjie in haar Limozine, dis nou die een met die flitsende rooi ligte en die sirene wat “Pieee-Pôôô, Pieee-Pôôô” maak. Sy het promosie gekry na Entabeni se rehabilitasiesentrum. En as sy vandag op haar voete kon staan, het sy op en af gespring van opgewondenheid! Maar binnekort gaan sy dit nog doen!
Dis baie harde werk, en waarskynlik baie pyn en smarte wat voorlê, maar dis 'n reuse tree vorentoe, en ons is die Here oneindig dankbaar vir hierdie wonderlike voorreg.
Gisteraand het daar 'n kring vrouens om haar hospitaalbed gestaan om te help met die inpak en beplan. Gistermiddag bring dierbare vriende vir haar die mooiste klere om daar te dra, en een van die selgroepe koop vir haar slaapklere sodat sy nou uit daardie aaklige, onvroulike fraaibloufrokkie van die hospitaal kan uitstyg en 'n splinternuwe lewe aanpak.
Dankie aan al ons wonderlike vriende wat ons so op die hande dra. Deur hierdie hele tyd het ek nog nooit nodig gehad om 'n enkele bord kos self te maak nie. Ons vrieskas word permanent aangevul met oondklaar geregte, sodat ons net in die aand in die hardloop 'n bakkie uithaal en warm maak. Dit is Ballito se selgroepe wat sulke wonderlike omgeemense is! Liefde word sigbaar en prakties uitgeleef in hierdie gemeente van Ballito Gesinskerk!

Dinsdag 25 Augustus 2015

Bettie: Woensdag 26 Augustus 7:00vm


Gistermiddag het ons wonderlike nuus gekry: Die mediese fonds het uiteindelik na 'n week se geroei en gestoei besluit om Bettie se rehabilitasie goed te keur in Entabeni. Ons is albei in die wolke!
Maar nou wag ons weer vir Entabeni, want daar is steeds nie 'n bed vir haar beskikbaar nie. Dit kan moontlik nog twee weke duur voordat sy daar opgeneem kan word. Bid asseblief saam met my dat daar wel baie spoedig 'n opening sal kom. Intussen gee Bhavita, die klein fisioterapeutjie haar 'n harde tyd om lewe in haar spiere te kry. Ek bewonder die klein vroutjie wat soveel krag het om Bettie te kan hanteer!
En intussen gaan dit elke dag 'n klein bietjie beter. Sy is deurgelê en sat vir die bed, maar die vordering maak deur en deur op daarvoor.
Baie dankie vir julle ouens wat kommentaar lewer op hierdie blok. Ons waardeer dit meer as wat julle sal dink. Bettie lees elkeen van hulle, en dan huil sy lekker, omdat sy weet dat daar mense is wat waarlik omgee.

Donderdag 20 Augustus 2015

Bettie: Donderdag 20 Augustus 1:00nm


Ons wag steeds om te hoor van die rehabilitasiesentrum in die Entabeni hospitaal in Durban. Bettie is gereed om oorgeplaas te word, maar hulle wag vir 'n opening vir haar in Entabeni.
Dit gaan onder die omstandighede nou baie goed met haar, alhoewel sy nog gladnie op haar bene kan staan nie. Sy is steeds baie positief, en sy sien uit na Entabeni. Daar wag baie harde werk op haar om weer op haar eie twee voete te kan staan (en loop!)
Die drip het ongelukkig 'n bloedklont veroorsaak, maar die dokter is ook besig om daaraan te werk om dit op te los. Ek moet hier net noem dat die personeel van hierdie hospitaal deur die bank ongelooflik is! Daar is nie 'n enkele een wat nors is nie. Elke pasiënt en besoeker word hartlik en met groot deernis behandel. En al werk die fisioterapeut met Bettie se gal, doen sy dit met 'n glimlag. En ek kan dieselfde sê van die wonderlike span dokters wat haar op die hande dra. Baie dankie dat julle so mooi na my kosbare Mosbolletjie omsien!

Maandag 17 Augustus 2015

Bettie: Dinsdag 18 Augustus 6:00vm


Nee, Bettie is toe nie Saterdag na die algemene saal nie. Daar was 'n klein bietjie van 'n terugslag: sy het infeksie gekry en hoë koors ontwikkel na die operasie. Die gevolg is dat sy vir nog twee dae in die waakeenheid moes bly.
Maar die goeie nuus is dat sy toe uiteindelik, na drie weke in die waakeenheid oorgeplaas is na die hoësorgeenheid. Dit is nou 'n iewers tussen die waakeenheid en 'n algemene saal. Skielik is dit rustig, sonder al die klokkies en alarms en dokers wat heen en weer hardloop tussen kritieke pasiënte. In die tyd wat sy in die waakeenheid was, het drie mense om haar gesterf. Dit ruk jou geestelik! En kort-kort is daar 'n groot krisis of drama wat afspeel.
Dankie tog! Dis nou iets van die verlede. Maar nou werk die fisioterapeut met haar gal. Die dokter is besig om te reël dat Bettie later oorgeplaas kan word na 'n rehabilitasiesentrum in die Entabeni hospitaal in Durban, waar hulle spesialiseer om mense wat die gebruik van hulle ledemate verloor het weer hulle normale lewensfunksies terug te gee. Dit sal beteken dat my Mosbolletjie moontlik vir 'n maand of twee ver van die huis af sal wees. Maar dit is 'n klein opofferinkie om te maak.
Bettie se toestand het baie verbeter. Daar is al redelike beweging in die linkerbeen, en die regterbeen kan sy ook al effens beweeg. Haar niere het tot 'n groot mate herstel, en haar longfunksie is ook besig om mooi reg te kom. Sy moes gister 'n bloedoortapping kry om die balans in haar bloed te herstel. Sy is steeds baie positief, en ons vriende staan tou om haar te besoek.
Dankie vir die talle mense wat vir haar bid. Sy word gedra op die gebede van gelowiges.

Vrydag 14 Augustus 2015

Bettie: Saterdag 15 Augustus 6:00vm


Ek is gister beroof van my besoekie aan my Mosbolletjie!
Toe ek besoektyd by die hospitaal kom, is ek net betyds om te sien hoedat sy die gang afry op haar wit hospitaalferrari. Sy was op pad na die teater sodat hulle die kateter kan vervang met 'n sakkie. Ongelukkig verg dit 'n operasie, want daar moet 'n pypie ingeplant word in haar blaas. Sy het nog nie beheer oor die blaas nie. Die Uroloog sê vir my dat dit enigiets tussen enkele dae en drie maande kan neem voordat sy weer normale blaasfunksie sal hê.
En so sien ek my Mosbolletjie verbyvlieg, vrolik en vol lewenslus soos altyd. Bedroë draai ek en Ria om. Ons sal maar vir die volgende uur onsself moet besig hou, iewers gaan koffie drink. Besoektyd is later al lankal iets van die verlede, en steeds staan ons en wag dat sy uit die teater moet kom. Uiteindelik moet ons maar huiswaarts keer, want ek het ander verpligtinge wat nie meer kan wag nie. Frustrasie!
Die goeie nuus is dat Bettie waarskynlik vandag na 'n algemene saal oorgeplaas gaan word!
Liewe leser, ek wil vir jou baie dankie sê dat jy gewillig is om te luister as ek my hart uitstort oor die een vir wie ek baie lief is, my Mosbolletjie. My verlange na haar is baie groot!

Woensdag 12 Augustus 2015

Bettie: Donderdag 13 Augustus 6:00vm


My Mosbolletjie is gisteraand baie opgewonde om my die nuus mee te deel: Die dokter is tevrede dat sy sodanig herstel het dat sy dalk teen die naweek na 'n algemene saal oorgeplaas kan word. Om uit die waakeenheid met al sy drama en alarms en klokkies en nimmereindigende gewoel en gewerskaf te kan ontsnap, is 'n reuse stap vorentoe.
Die enkele groot probleem wat sy nou het, is dat sy steeds nie die gebruik van haar bene het nie. Maar dit is ook stadigaan besig om te verbeter. Gister het sy vir die eerste keer haar voete op die grond gehad en probeer staan met 'n loopraam.
Die fisioterapeut sê dat dit noodsaaklik is dat Bettie 'n tyd lank in 'n rehabilitasiesentrum sal moet deurbring. Die naaste een is in die Entabeni Hospitaal in Durban. Dit is nog 'n groot berg wat vir ons voorlê, maar hóm sal ons ook klim, treetjie-vir-treetjie.
Ek is baie dankbaar vir die vordering, en ek wil weereens baie dankie sê vir elkeen wat getrou vir haar bid en ons op die hande dra met hulle liefde en bemoediging.


Dinsdag 11 Augustus 2015

Bettie: Woensdag 12 Augustus 8:00vm


My Mosbolletjie bars gisteraand van opgewondenheid toe ek by die saal instap. Sy kan nie wág om my te vertel dat sy op 'n uitstappie was nie. Die gistermiddag besluit die dokter dat hy wil sien hoe haar longe lyk, want hy vermoed infeksie. En daar neem hulle haar op 'n rit op haar hospitaalbed deur die gange, af met die hysbak en tot by die X-straaleenheid. Sy vertel dat sy aan die een kant soos 'n koningin gevoel het, want dit was die eerste keer in twee weke wat sy uit die morbiede waakeenheid kom. Maar terselfdertyd voel dit asof sy saam met Super Van op 'n ralley is, want hierdie portier bestuur daardie bed soos 'n resiesmotor! Almal moet padgee voor, en hulle skuur teen die mure verby met 'n duiselingwekkende snelheid.
Morbied is die waakeenheid inderdaad, want sy sien hoe mense rondom haar doodgaan. Eers die vrou in die bed skuins oorkant haar, en toe die een in die bed reg langs haar. En gisteraand het Dawie en Sharon, goeie vriende van ons se moeder ook heengegaan. Sy was vir meer as twee weke saam met Bettie in die waakeenheid. Elke dag was die twee getrou op hulle pos by haar, het hulle gehoop. Ek voel so bitter jammer vir hulle.
En dan is daar nog die man wat onder streng polisiebewaking in die waakeenheid is. Gewapende polisiemanne staan die hele tyd daar. Maar niemand wil daaroor praat nie.......
Al hierdie dinge maak dit vir Bettie baie moeilik, maar steeds hou sy haar kop hoog. Sy is beslis die gunsteling onder al die verpleegsters daar! Sy is die enigste wat steeds lag en skerts en dit aangenaam maak vir almal wat in die waakeenheid kom.
Die dokters is tevrede met haar vordering, en sy behoort binnekort na 'n algemene saal verskuif te kan word. Sonder al die pype aan haar, sal dit dan ook makliker wees vir die fisioterapeut om haar noodsaaklike werk te kan doen.

Bettie: Dinsdag 11 Augustus 8:00vm


Toe ek gisteroggend by my Mosbolletjie kom, is sy in trane. Elke dag kom trek hulle bloed vir toetse, en hulle kry nie are nie. Haar arms en polse en hande is potblou soos wat hulle die naalde indruk en karring om bloed op te spoor. En dis bitter seer!
Boonop het die dokter haar kom meedeel dat hulle van besluit verander het oor die bloedplasma, en dat hulle nog een laaste omruiling moet kom doen. En hierdie marteling lê soos 'n berg voor haar. Dit is nie pynlik nie, maar dit tap haar energie en laat haar sommer net mislik voel.
Maar toe ek gisteraand by die waakeenheid instap, sien ek haar breë glimlag al sommer op 'n afstand. Die plasmavervanging is verby. Maar dis nie al nie: die narkotiseur was by haar, en sy het vir my Mosbolletjie 'n “airline” ingesit. Soos ek dit verstaan, is dit 'n pypie in 'n aar in haar voet, met 'n kraantjie aan. En wanneer hulle bloed wil hê om te toets, draai hulle net die kraantjie oop. Niks meer gekarring met naalde in haar hande nie! Sy is in die wolke!
Maar dis nie al nie: haar regterbeen, wat nog al die tyd onbeweeglik daar gelê het, begin sy nou bietjies-bietjies beweeg. Met 'n bietjie hulp van die fisioterapeut, kom sy nou gereeld regop en sit op die kant van die bed met haar voete op die grond. Die pad na herstel het uiteindelik begin!
Ek kan nie meer wág dat jy huistoe kom nie, my Mosbolletjie!

Sondag 09 Augustus 2015

Bettie: Maandag 10 Augustus 8:00vm


Ek kan nie glo dat dit nou al die tiende blok is wat ek oor Bettie skryf nie! En ek het nie eers elke dag geskryf nie!
Elke keer as ek by haar kom gaan 'n bietjie beter. Die afgelope paar dae help die fisioterapeut haar regop, en dan gaan sit sy op die kant van die bed met haar bene wat afhang. Sy het selfs 'n loopraam uitgetraai – nie geloop met hom nie, want die bene wil nog nie saamspeel nie, maar sy kon al die gevoel kry van hoe om die ding te hanteer.
En haar krismisboom van drupsakkies is besig om al sy blare te verloor. Van die nege sakkies is daar nou nog net drie oor. Boonop kry sy ook nie meer aarvoeding nie. Sy moes vanoggend haar laaste bloedplasma omruiling gekry het, maar die dokters het besluit dat dit nie meer nodig is nie, en daaroor is my Mosbolletjie natuurlik in die wolke, want dit is 'n uitmergelende prosedore. Hulle gaan egter vandag begin met 'n week-lange behandeling van steroïde.
Ek het vanoggend vir haar 'n boodskappie gestuur om te sê hoe trots ek op haar is, en hoe ek met haar brêg by almal. Dat sy so sprankelend en vol vreugde kan wees tussen 'n klomp suurknolle, gaan my verstand te bowe. Haar buurvrou probeer dit vir almal rondom haar moeilik maak met haar gekerm en geskree op almal en ontevrede wees met alles in die lewe. En sy het nog twee trawante elders in die waakeenheid wat óók die lewe vir almal versuur. En my eie Mosbolletjie beur almal rondom haar op met haar opregte blydskap. En dít ten spyte van al die pype en naalde in haar, en ten spyte daarvan dat haar arms en hande potblou is van die talle kere wat hulle bloed moes trek en nie are kon kry nie.
My Mosbolletjie, ek is baie trots op jou! En ek bewonder jou moed!

Saterdag 08 Augustus 2015

Bettie: Saterdag 8 Augustus 8:00vm


Gisteraand was my Mosbolletjie nie baie lekker nie. Die behandeling het haar uitgeput, en sy het baie ongemak verduur. Die bloedplasmavervanging is elke keer uitmergelend. Boonop lê sy al vir twee weke in een posisie. Sy kan nie eers 'n bietjie op haar sy draai nie. Daardie rug moet nou al vodde wees!
Maar sy is steeds positief. Een van haar talle besoekers merk gister op: “Sy is so mooi gegrimeer, met kersierooi lippies, sodat sy mooi sal lyk vir haar besoekers.” Inderdaad is dit opvallend dat deur die bank almal wat in die waakeenheid lê, vaal lyk. As jy so afstap verby die beddens na Bettie se “krismisboom” toe, dan kyk jy vas teen 'n muur van strak, bekommerde, stroewe, bleek gesigte. En op die onderpunt 'n sprankelende blommetjie met 'n kersielaggie. Terloops, die lipstiek kom uit 'n Rooi Rose wat iemand vir haar gegee het!
En wanneer ek by die saal instap, helder haar gesiggie so 'n ekstra op. En dit sê dat sy lief is vir my! En die beklemming om my hart verdwyn sommer!
Maar nou moet ek eers 'n woordjie sê oor die personeel: Wanneer ek by die voordeur van Alberlito Hospitaal instap, keer die ontvangsdames my eers voor om uit te vra oor Bettie. Nie alleen loop hulle oor van vriendelikheid nie, maar hulle bemoedig my.
En wanneer ek die waakeenheid met al sy klokkies en fluitjies en alarms en biepers binnestap, verdwyn die aaklige geluide, want ek word begroet met 'n hartlike warmte van vriendelike verpleegsusters wat wys dat hulle waarlik omgee, nie alleen vir die pasiënte nie, maar ook die besoekers. Elkeen van die dosyne susters groet my vriendelik asof ek al 'n ou vriend is.
My Mosbolletjie kon nie in 'n beter plek gewees het nie!


Donderdag 06 Augustus 2015

Bettie: Donderdag 6 Augustus 8:00vm


As jy by Bettie se hospitaalbed kom, sien jy 'n borrelende bondeltjie vreugde soos 'n sprankelende blom uitstaan tussen al die masjiene en pype en drade en sakkies wat goeters in haar are indrup. Agter haar, rye en rye monitors wat biep-biep en tjiep-tjiep maak, en elke kort-kort gaan daar die een of ander alarm af.
Ek kyk na haar arms – die blou kolle bedek amper die helfte van haar arms, en haar vingerpunte is vol swart kolletjies waar hulle haar elke uur prik om die bloed te toets. Op verskeie plekke op haar hande en lyf sit die bloedkolle waar die naalde in haar ingedruk is om die medikasie toe te dien. In elke lies is daar pype waar hulle dialise en bloedplasmavervanging doen.
Nogtans is sy opgeruimd en positief, en al verduur sy baie ongemak, kla sy nie. Skerts die hele tyd met die dokters en verpleegpersoneel wat soos bye om haar zoem. En elke besoeker wat daar kom word beloon met 'n glimlag wat dreig om reg rondom te gaan.
Maar ek is verward. Gisteraand het een van die spesialisdokters 'n lang gesprek met ons kom aanknoop om te verduidelik. Hy vertel dat sy deur 'n baie rowwe tyd is: haar niere het “opgepak”, maar nou funksioneer hulle bevredigend, alhoewel daar skade is. Sy het op 'n stadium ernstige septisema gehad, en hulle moes spook om dit onder beheer te kry. Dit kom ook uit in die gesprek dat die dokters nog gladnie seker is oor die diagnose nie. Hy is oortuig dat die wel Guillain-Barré syndroom is, maar van die ander dokters dink weer nie so nie.
Vieruur vanoggend, toe die reuse vragmotors gelaai met sand teen die berg verby ons huis opstoom, lê ek en worstel met die Here. “Ek verstaan gladnie Here! Alles is so deurmekaar!” Maar die Here vra nie van my om te verstaan nie, maar net om te berus, te hoop en te vertrou. En om in volle afhanklikheid na Hom op te kyk.


Dinsdag 04 Augustus 2015

Bettie: Woensdag 5 Augustus 8:00vm


Dit gaan elke dag treetjie-vir-treetjie beter met my Mosbolletjie. Gisteraand het sy, tot groot frustrasie van Ria ons jongste, 'n lang lys van pligte gehad van dinge wat by die huis gedoen moet word. As sy ons eers begin rond-order, dan is sy op die pad na herstel!
Die neuroloog het gister 'n lang gesprek met ons gehad en alles baie mooi verduidelik. (Dis net dat ek alles nie so baie mooi verstaan nie.) Dit kom in kort daarop neer dat hulle nou 'n virus ontdek het in haar rugmurg vloeistof. Dit klink na slegte nuus, maar eintlik is dit nie so sleg nie, want dit beteken dat Bettie moontlik nie Guillain-Barré syndroom het nie, maar wel Myelitis. Hulle gaan dit nou behandel met 'n week-lange kursus van Steroïde.
Bettie is steeds baie positief en opgeruimd, en sy sien uit na elke besoeker wat by haar 'n draai kom maak. Sy vra ook dat ek baie liefde sal oordra aan elkeen wat haar dra in die gebed en wat haar bemoedig.

Maandag 03 Augustus 2015

Bettie: Dinsdag 4 Augustus 8:00vm


Bettie was gisteraand opgeruimd en sy gesels baie lekker. Sy verstaan baie goed waaroor dit alles gaan, en sy besef selfs dat hierdie verskriklike siekte haar dalk permanent kan verlam. Die dokters het haar baie goed ingelig oor presies wat dit behels. Nogtans is sy steeds uiters positief.
Ons glo natuurlik dat sy totaal sal herstel. Sy reageer baie goed op die behandeling. Die witbloed telling het al mooi afgekom – iets wat baie positief is. Haar niere was aanvanklik ook aangetas, maar hulle funksioneer nou weer normaal. Sy sukkel nog 'n bietjie met die longe, maar dit is ook stadigaan besig om te herstel.
Sy kry steeds twee keer per dag 'n pak slae van die fisioterapeut en sy kry dagliks 'n sessie dialise sowel as bloedplasmavervanging.
Al wat Bettie op hierdie stadium onderkry, is die ongemak van dosyne pypies wat oral in haar lyf in die are ingeprop is, en die netwerk van drade. En sy is deurgelê! Sy mag nie roer uit die bed uit nie!
Bettie vra dat ek vir elkeen wat vir haar bid en vir die sakke vol boodskappies van bemoediging uit haar hart uit baie, baie dankie sê. Ook vir die talle vriende wat haar kom besoek en bemoedig. Elke besoekie maak haar dag!


Sondag 02 Augustus 2015

Bettie se toestand: Sondag 2 Augustus 1:30nm


Bettie lyk vanoggend baie goed, nadat sy gistermiddag 'n harde tyd gehad het. Sy is opgeruimd en gesels lekker, en sy het sommer 'n streep besoekers gehad. Sy kry steeds aarvoeding maar stadigaan begin sy weer eet. Sy is gister “opgegradeer” na groen jellie, en sy sien uit daarna om vandag kapokaartappels te kan eet.
Haar grootste frustrasie is die toestand van haar hare: dit is meer as 'n week laas gewas, en dit is olierig en hang toutjies.
Sy het vandag “afgekry” van die dialise, maar more gaan hulle weer volstoom daarme voort, om plasmavervanging te doen. Dit is uitputtend. En dan is daar nog die “pyn-mechanic” wat haar kort-kort kom verrinneweer. Ek deur dit alles lag sy positief! Maar dit is die talle gebede wat haar deur dit alles dra!

Saterdag 01 Augustus 2015

Bettie se toestand - opgedateer 1 Augustus 1:30nm


Bettie is vanoggend opgeruimd en sy gesels lekker. Sy kry nou oor aarvoeding en sy eet dus nie. Maar sy het in elkgeval geen eetlus nie. Sy trek selfs haar neus op vir sjokolade!
Hulle doen nou ook dialise met 'n ander masjien. Volgens wat ek verstaan, is dit om die bloed teenliggaampies te verwyder. Dus word daar twee verskillende soorte dialise op haar gedoen.
Bettie stuur baie liefde en groete aan almal wat sy ken en almal wat in haar belangstel. Baie dankie vir almal wat ons oorval met liefde in hierdie moeilike tyd.