Dinsdag 11 Augustus 2015

Bettie: Woensdag 12 Augustus 8:00vm


My Mosbolletjie bars gisteraand van opgewondenheid toe ek by die saal instap. Sy kan nie wág om my te vertel dat sy op 'n uitstappie was nie. Die gistermiddag besluit die dokter dat hy wil sien hoe haar longe lyk, want hy vermoed infeksie. En daar neem hulle haar op 'n rit op haar hospitaalbed deur die gange, af met die hysbak en tot by die X-straaleenheid. Sy vertel dat sy aan die een kant soos 'n koningin gevoel het, want dit was die eerste keer in twee weke wat sy uit die morbiede waakeenheid kom. Maar terselfdertyd voel dit asof sy saam met Super Van op 'n ralley is, want hierdie portier bestuur daardie bed soos 'n resiesmotor! Almal moet padgee voor, en hulle skuur teen die mure verby met 'n duiselingwekkende snelheid.
Morbied is die waakeenheid inderdaad, want sy sien hoe mense rondom haar doodgaan. Eers die vrou in die bed skuins oorkant haar, en toe die een in die bed reg langs haar. En gisteraand het Dawie en Sharon, goeie vriende van ons se moeder ook heengegaan. Sy was vir meer as twee weke saam met Bettie in die waakeenheid. Elke dag was die twee getrou op hulle pos by haar, het hulle gehoop. Ek voel so bitter jammer vir hulle.
En dan is daar nog die man wat onder streng polisiebewaking in die waakeenheid is. Gewapende polisiemanne staan die hele tyd daar. Maar niemand wil daaroor praat nie.......
Al hierdie dinge maak dit vir Bettie baie moeilik, maar steeds hou sy haar kop hoog. Sy is beslis die gunsteling onder al die verpleegsters daar! Sy is die enigste wat steeds lag en skerts en dit aangenaam maak vir almal wat in die waakeenheid kom.
Die dokters is tevrede met haar vordering, en sy behoort binnekort na 'n algemene saal verskuif te kan word. Sonder al die pype aan haar, sal dit dan ook makliker wees vir die fisioterapeut om haar noodsaaklike werk te kan doen.

1 opmerking:

  1. Hello Louis ons is so bly om te hoor dat dit al hoe beter gaan met Bettie.Ons dink aan julle al die tyd en sy is in my gebed. Ek glo alles gaan reg kom. Stuur my liefde vir haar en sterkte aan almal van die familie. Ek het nog nooit geblog nie en prober al die tyd e.mail. So stupid van my. Vandag uit frustrasie laat ek my broer weet en hy ly my nou deur die ding. Haat technology goed.Liedegroete Jan en Lynda Delport (betty se niggie van ma Anna se kant. Ons pa was haar ma se broer) net in case jy nie seker is wie ons is nie.

    AntwoordVee uit