Maandag 17 Augustus 2015

Bettie: Dinsdag 18 Augustus 6:00vm


Nee, Bettie is toe nie Saterdag na die algemene saal nie. Daar was 'n klein bietjie van 'n terugslag: sy het infeksie gekry en hoë koors ontwikkel na die operasie. Die gevolg is dat sy vir nog twee dae in die waakeenheid moes bly.
Maar die goeie nuus is dat sy toe uiteindelik, na drie weke in die waakeenheid oorgeplaas is na die hoësorgeenheid. Dit is nou 'n iewers tussen die waakeenheid en 'n algemene saal. Skielik is dit rustig, sonder al die klokkies en alarms en dokers wat heen en weer hardloop tussen kritieke pasiënte. In die tyd wat sy in die waakeenheid was, het drie mense om haar gesterf. Dit ruk jou geestelik! En kort-kort is daar 'n groot krisis of drama wat afspeel.
Dankie tog! Dis nou iets van die verlede. Maar nou werk die fisioterapeut met haar gal. Die dokter is besig om te reël dat Bettie later oorgeplaas kan word na 'n rehabilitasiesentrum in die Entabeni hospitaal in Durban, waar hulle spesialiseer om mense wat die gebruik van hulle ledemate verloor het weer hulle normale lewensfunksies terug te gee. Dit sal beteken dat my Mosbolletjie moontlik vir 'n maand of twee ver van die huis af sal wees. Maar dit is 'n klein opofferinkie om te maak.
Bettie se toestand het baie verbeter. Daar is al redelike beweging in die linkerbeen, en die regterbeen kan sy ook al effens beweeg. Haar niere het tot 'n groot mate herstel, en haar longfunksie is ook besig om mooi reg te kom. Sy moes gister 'n bloedoortapping kry om die balans in haar bloed te herstel. Sy is steeds baie positief, en ons vriende staan tou om haar te besoek.
Dankie vir die talle mense wat vir haar bid. Sy word gedra op die gebede van gelowiges.

1 opmerking:

  1. Baie bly om te hoor Bettie raak elke dag bietjie beter stap vir stap Bettie jy sal weer bo uit kom. Die berg is styl maar ons Here loop al die pad met jou.Gee asb die boodskap vir Bettie. Sterkte vir jou en familie Louis.

    AntwoordVee uit