Sondag 09 November 2014

Katkisante


Trane loop oor my wange van pure aandoening as ek die lang ry jongmense voor die kansel aanskou. Hulle is baie spesiaal! Hierdie groepie kom staan voor die gemeente en voor God om in die openbaar te kom sê dat hulle in Jesus glo as hulle Verlosser. Sonder uitsondering is hierdie groepie stralend, en ek is oortuig daarvan dat elkeen van hulle opreg bedoel wat hulle bely.

Instinktief gaan my gedagtes terug na vyftig jaar gelede, toe ek óók daar gestaan het. Hoe anders was dit nie toé nie! Ek het bibberend van angs daar gestaan, maar tóg was ek bly dat die nagmerrie uiteindelik verby was. Nagmerrie inderdaad! Onthou jy nog daardie grys katkisasiehandboek van Gerdener? Ons moes hom letterlik uit die kop ken. En dit was veral die Kort Begrip agterin wat jy woord-vir-woord moes memoriseer.

Vraag 1: hoeveel dinge is daar vir jou nodig om te weet, om wel getroos, salig te lewe en te sterwe?

Antwoord: Drie dinge. Ten eerste: Hoe groot my sonde en ellende is. Ten tweede: Hoe sal ek van my sondes en ellende verlos word. Ten derde: Hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar sal wees.

Vraag 45: Hoe is dit te verstaan dat jy alleen deur die geloof geregverdig is?

Antwoord: Só, dat alleen die volkome genoegdoening en geregtigheid (a) van Christus my deur God toegereken word, waardeur my sondes my vergewe en ek 'n erfgenaam van die ewige lewe word (b), en dat dit nie anders as deur die geloof kan aanneem nie.

Verstaan jy hierdie vrae? Dink jy dat 'n sestienjarige dit sal verstaan? Ek het baie beslis nie! En ek kan nie onthou dat iemand dit ooit in eenvoudige taal vir my verduidelik het nie. Ek het maar net hierdie moeilike vrae uit my kop moes leer, sodat die paneel nors Ouderlinge wat ons getoets het kon sien dat ek my leerwerk goed gedoen het, en dat ek daarom kwalifiseer as lidmaat.

Ja, dit was eers 'n volle tien jaar later voordat ek vir die eerste keer begin verstaan het waaroor dit éintlik gaan, en voordat ek 'n ontmoeting met Jesus gehad het.

Maar hierdie groepie jongmense is anders. Ek lees die opgewondenheid op hulle gesigte. Toe ek voor die tyd met van hulle gesels, hoor ek daardie opregte geloof in 'n Verlosser met Wie hulle 'n intieme verhouding het. Op ons uitreik na Mosambiek 'n maand gelede, het ek gesien hoe van hulle alreeds daardie geloof prakties uitleef met hart en siel.

Is die kerk besig om ten gronde te gaan, soos sommige mense wil beweer? Met sulke jongmense wat nou in die kerk opstaan, sien ek die toekoms van die kerk van krag tot krag gaan! Daar is hoop! Daar is ware lewende hoop!

Dankie vir Ds. Alwyn en Prop. Pierre Burger en Dawie en al die ander toegewyde jeugbedieners in ons gemeente wat daardie wonderlike grondslag lê in ons gemeente se jongmense! En dankie Ds. Alwyn, dat jy hierdie dag so aangrypend en baie spesiaal beplan het vir hierdie groepie katkisante, 'n dag wat hulle (en die gemeente!) nooit sal vergeet nie.