Trane
loop oor my wange van pure aandoening as ek die lang ry jongmense
voor die kansel aanskou. Hulle is baie spesiaal! Hierdie groepie kom
staan voor die gemeente en voor God om in die openbaar te kom sê dat
hulle in Jesus glo as hulle Verlosser. Sonder uitsondering is hierdie
groepie stralend, en ek is oortuig daarvan dat elkeen van hulle opreg
bedoel wat hulle bely.
Instinktief
gaan my gedagtes terug na vyftig jaar gelede, toe ek óók daar
gestaan het. Hoe anders was dit nie toé nie! Ek het bibberend van
angs daar gestaan, maar tóg was ek bly dat die nagmerrie uiteindelik
verby was. Nagmerrie inderdaad! Onthou jy nog daardie grys
katkisasiehandboek van Gerdener? Ons moes hom letterlik uit die kop
ken. En dit was veral die Kort Begrip agterin wat jy woord-vir-woord
moes memoriseer.
Vraag
1: hoeveel dinge is daar vir jou nodig om te weet, om wel getroos,
salig te lewe en te sterwe?
Antwoord:
Drie dinge. Ten eerste: Hoe groot my sonde en ellende is. Ten tweede:
Hoe sal ek van my sondes en ellende verlos word. Ten derde: Hoe ek
God vir so 'n verlossing dankbaar sal wees.
Vraag
45: Hoe is dit te verstaan dat jy alleen deur die geloof geregverdig
is?
Antwoord:
Só, dat alleen die volkome genoegdoening en geregtigheid (a) van
Christus my deur God toegereken word, waardeur my sondes my vergewe
en ek 'n erfgenaam van die ewige lewe word (b), en dat dit nie anders
as deur die geloof kan aanneem nie.
Verstaan
jy hierdie vrae? Dink jy dat 'n sestienjarige dit sal verstaan? Ek
het baie beslis nie! En ek kan nie onthou dat iemand dit ooit in
eenvoudige taal vir my verduidelik het nie. Ek het maar net hierdie
moeilike vrae uit my kop moes leer, sodat die paneel nors Ouderlinge
wat ons getoets het kon sien dat ek my leerwerk goed gedoen het, en
dat ek daarom kwalifiseer as lidmaat.
Ja,
dit was eers 'n volle tien jaar later voordat ek vir die eerste keer
begin verstaan het waaroor dit éintlik gaan, en voordat ek 'n
ontmoeting met Jesus gehad het.
Maar
hierdie groepie jongmense is anders. Ek lees die opgewondenheid op
hulle gesigte. Toe ek voor die tyd met van hulle gesels, hoor ek
daardie opregte geloof in 'n Verlosser met Wie hulle 'n intieme
verhouding het. Op ons uitreik na Mosambiek 'n maand gelede, het ek
gesien hoe van hulle alreeds daardie geloof prakties uitleef met hart
en siel.
Is
die kerk besig om ten gronde te gaan, soos sommige mense wil beweer?
Met sulke jongmense wat nou in die kerk opstaan, sien ek die toekoms
van die kerk van krag tot krag gaan! Daar is hoop! Daar is ware
lewende hoop!
Dankie
vir Ds. Alwyn en Prop. Pierre Burger en Dawie en al die ander
toegewyde jeugbedieners in ons gemeente wat daardie wonderlike
grondslag lê in ons gemeente se jongmense! En dankie Ds. Alwyn, dat
jy hierdie dag so aangrypend en baie spesiaal beplan het vir hierdie
groepie katkisante, 'n dag wat hulle (en die gemeente!) nooit sal
vergeet nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking