Lees
ek vanoggend Psalm 19 van die hemel wat getuig van God se grootheid
en almag. En dit is alles baie mooi, en my siel juig saam met daardie
skrywer van ouds. Ek loof die Here vir alles wat Hy is en wat Hy
gedoen het.
En
toe lees ek vers 10: “Die bepalings van die Here is reg: elkeen van
hulle is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud,
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek.”
Is
dit nou nie mooi nie? Dit is 'n inspirasie wat genoeg is vir die hele
dag, om my te dra deur ál die dag se beproewinge.
En
toe kom sit een van die duiwel se trawante op my skouer en hy
fluister saggies in my oor: “Werklik?”
“Wat
bedoel jy?” vra ek vererg.
“Aag,
daardie stukkie is sommer pure heuningkwas. Wees nou maar eerlik,
alles is nie so maanskyn en rose soos wat die soetsappige gedig wil
voorgee nie.”
“Nee,
jy is verkeerd!” Nou is ek sommer dadelik omge-êllie!
“Kom
ek gee 'n voorbeeld: wat van al die onreg wat in die wêreld aangaan?
Waar is jou God wanneer duisende mense onskuldig sterf?”
“Dit
is die werk van ongelowiges!” Kyk, ek wéét mos darem hoe om die
kêrel te antwoord, “Dit is jóú volgelinge wat al die ellende
veroorsaak!” sê ek vir hom.
“Dankie
vir die kompliment,” lag hy, “maar dis nie húlle waarvan ek
praat nie, dis al die rampe en peste en epidemies wat die wêreld
tref, en dan gaan daar dikwels onskuldige mense, selfs gelowiges en
kinders dood. Waar is jou God se liefde dan nóú?”
Vir
'n oomblik is ek totaal uit die veld geslaan. Hoe antwoord jy só 'n
arrogante vent? En ek hoor hoe hy bulder van die lag terwyl hy
wegvlieg en my met hierdie tameletjie los.
“Here,”
bid ek wanhopig, “ek verstaan nie. Sal ek óóit U weë verstaan?
Daar is soveel mense wat loop en worstel met hierdie vraag.”
En
dan kom die antwoord na my soos in 'n sagte, kabbelende
waterstroompie: “Wie en wat is jy?”
“Ek
is Louis, 'n doodgewone mens van vleis en bloed, en vol allerhande
skete. Ek het jig en rumatiek wat my pynig, en dan is daar nog
boonop.......”
“Nee,
wie is jy wérklik?”
En
dan skemer dit tot my deur: Hierdie “Ek” waarna ek verwys is
eintlik maar net 'n tydelike dop waarin die ware “Ek” op die
oomblik bly. My verganklike liggaam is die werktuig wat die Here my
gegee het om te gebruik tot Sy eer solank as wat ek die aarde
bewandel. Die ware Ekke is my gees wat hierdie liggaam tydelik
bewoon.
En
natuurlik is hy onsterflik en kan hy nie fisies gepynig word nie,
selfs nie eers deur die ergste marteling nie. Nou maak dit sin waarom
die martelare in Nero se tyd kon lofliedere sing terwyl die leeus
hulle opvreet.
As
jy op 'n ander manier daarna kyk, dan is die dood eintlik die aksie
waar jy verlos word van die beklemmende dop waarin jy noodgedwonge
hier op aarde moet bly.
Die
vraag is: Is dit dan so wreed as mense verlos word van hulle
verganklike ou liggame om vry en ongebonde te kan wees sonder enige
pyn en swaarkry en ellende? En dan boonop in die heerlikheid van God
se teenwoordigheid te kan lewe?
Nee,
ek dink nie so nie! Ek dink dit is suiwer liefde en genade!
“Die
bepalings van die Here .... is kosbaarder as goud, ..... soeter as
heuning”
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking