Almal
is Vrolik, net nie ekke nie.
Die
oggendsonnetjie begin die vallei hier onder my vul, waar ek
toegewikkel in 'n warm jas onder die Mangoboom sit om 'n internetsein
te probeer kry. Ek voel gefrustreerd, want die bietjie sein wat daar
van die toring af deursypel is maar bitter stadig. Dalk vries dit
halfpad? Ek sê 'n paar woorde wat ek nie hier durf publiseer nie.
Maar
my wag is darem nie verniet nie, want oggendklanke begin die lug vul.
“O Heer, baie dankie dat U my nog 'n nag gespaar het” sing 'n
Groenvlekduifie hier onder uit die woud, oor en oor en oor.
“Genaaaade,
genaaaade, genaaaade!” antwoord 'n Tortelduif hier agter uit die
hoë takke van 'n Suurpruim.
“Loof
God, want Hy is goed!” beaam 'n Grootringduif.
Iewers
in die vêrte hoor ek hoe die Papegaaiduiwe vrolik klets en rinkink.
Vir hulle is die lewe een groot fees. Dit lyk altyd asof hulle nie 'n
bekommernis in die wêreld het nie. En dan wonder ek: waarvan leef
hulle? Dis winter en die vrugte is maar skaars. Hoe kan hulle nog so
opgeruimd wees as hulle skaars iets het om te eet?
Skielik
voel ek baie skaam, want hier is al die voëltjies in die veld besig
om lofliedere te sing te midde van groot swaarkry, en ek sit en stres
en op my tande kners omdat ek 'n bietjie sukkel met 'n luukse soos
internet wat nie wil werk nie.
Die
laksmannetjie kom ingesweef en sit vir 'n oomblik op 'n paal. Dan
duik hy af op die droë gras om die een of ander onsigbare gogga te
vang. Ook maar bitter min goggas vir hom hierdie tyd van die jaar,
maar hy kla nie.
Hy
vryf nog sout in my wonde. Ek voel dringend die behoefte om vir die
Here groot om verskoning te vra oor my ongeduld en ondankbaarheid.
Louis
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking