Goeie
môre
Dagboek:
2 Julie 2014
O
koud is die windjie en skraal......... Die bekende gedig uit ons
vroeë Afrikaanse skatkis maak vanoggend vir my baie sin.
Omdat
ons internet sein so swak is, moet ek baie vroeg elke oggend buite
gaan sit voor die huis om my take afgehandel te kry. En vanoggend byt
so 'n lastige windjie my in die blaaie.
Nogtans
is dit die moeite werd, want in die vallei onder my begin die son
plek-plek die skaduwees uit die kloof verdryf. Die voëls het begin
ontwaak, en hier agter die huis jubel 'n Grootringduif: “Loof Hom!
Die Heer is groot!” oor en oor.
Die
narre van die duiwefamilie, die Papegaaiduiwe baljaar iewers hier
onder in 'n boom waar daar wintervrugte is – hulle dankbare
borrelklanke is soet op die oor. En 'n paar Rooikophoutkappertjies
sing opgewonde hulle duet terwyl hulle op die takkie op en af wip van
pure lewensvreugde, terwyl 'n koddige Hoep-hoep ewe vrolik
“Hoep-hoep-hoep.”
Die
hartseer liedjie van die Groenvlekduifie: “My ma is dood, my pa is
dood, al my kindertjies is dood en my hart is baie seer.....” gryp
my aan die hart.
Dit
herinner my dat daar tussen al die vrolike mense ook iemand is met 'n
diep seer binne in. Dit hinder my, want dikwels wil ek nie daardie
seer raaksien nie – wil ek liewer verby kyk, nie betrokke raak nie.
Die
Here het my 'n oor gegee om te kan luister na diegene wat seer het.
Dalk kan ek nie fisies iets doen nie, maar dikwels is dit al wat die
persoon vra, dat iemand gewillig sal wees om te luister.
Here,
gee my asselief gewillige ore. Gee my asseblief daardie empatie om
te wil luister na elkeen wat seer het. Gee my die geduld om nie te
wil raadgee nie, maar net te luister.
Louis
Nel
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking